Die saak, wat aangehoor word saam met nege ander aansoekers, word gelei deur British American Tobacco South Africa (Batsa), die grootste vervaardiger van tabakprodukte in Suid-Afrika. 

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die eienaardige verbod op tabakhandel in Suid-Afrika as deel van die nasionale strategie om die verspreiding van Covid-19 te stuit, het honderde tabakboere en vele ander plaaswerkers in ’n krisis gedompel. “Dit het verkoopsgeleenthede vernietig, asook inkomstestrome, werksgeleenthede en broodwinning in die primêre produksiesektor.”

Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê tabakboere het reeds ’n klomp geld aan insetkoste, infrastruktuur en plaaswerkers se salarisse bestee.

“Dié koste kan slegs verhaal word as boere in staat is om voordeel te trek uit die opbrengs van hul tabakoeste. Die verbod op tabakprodukte beperk nie net die kans dat boere in die volgende seisoen kan plant nie, maar plaas ook ernstige finansiële druk op hulle, omdat die meeste boere verdere finansiering gaan benodig om hul bedrywighede te kan volhou.”