Hy het tydens Agri Limpopo se jaarkongres gesê hoewel hy en ander leiers van Agri SA gereeld gekritiseer word vir hul bereidwilligheid om eerder met die regering te praat as om te baklei, is die grondbeginsels van die ekonomie en private eiendomsreg nie by hom onderhandelbaar nie.

Kriek het tydens ’n ontbytgesprek by die kongres gesê kritici soek ’n veglustige benadering. Hulle gebruik woorde soos “onderhandel”, “kompromie” en “politieke korrektheid” om hom en Agri SA te etiketteer.

Hy het boere egter weer verseker dat Agri SA nie onderhandel oor die beginsels wat sy gesprekke met regeringslui rig nie. Dit is gegrond op die mandate wat hy op provinsiale en nasionale kongresse kry. “Dit is ononderhandelbaar.”

Kriek loop veral deur oor sy aanhalings uit die Grondwet waar dit na Suid-Afrika se ongelyke verlede verwys. Dit het begin toe hy pres. Cyril Ramaphosa die eerste keer ontmoet en binne ’n paar minute die landbou se saak moes stel. “Ek het vir hom gesê: Meneer die president, ek gaan vir jou iets sê wat nog geen voorsitter van Agri SA voor my gesê het nie: Ons erken – en ek het die aanhef van die Grondwet aangehaal – dat kolonialisme, die Wet op Naturellegrond van 1913 en apartheid ’n vernietigende effek op die lewens van swart mense gehad het. En in die tweede plek, mnr. die president, sal ons saam met jou verantwoordelikheid neem om te help om hierdie probleem op te los en vordering te maak.”

Hy het die aanhef tot die Grondwet ook by die grondberaad wat Agri SA verlede jaar met die samewerking van Landbouweekblad aangebied het, aangehaal. Hy het later, toe hy Suid-Afrika se tradisionele leiers saam met dr. Patrice Motsepe toegespreek het, gesê almal is op een of ander wyse deur die koloniale era en apartheid geraak.

Geskiedenis

“Ek het vertel hoe my grootouers in die Anglo-Boereoorlog geveg het, hoe my oumagrootjie ’n verpleegster in die konsentrasiekamp in Heilbron was. Jul ouers en grootouers het dit, soos myne, direk beleef, maar nadat die koloniale era tot ’n einde gekom het, het die Wet op Naturellegrond van 1913 die lig gesien en 70% van die land se bevolking het op 7% van die grond geëindig.”

Kriek het gesê hy het toe vir die leiers gesê dit help nie almal probeer die geskiedenis herskryf nie. Daar moet eerder gebou word aan ’n nuwe toekoms waarin almal deel het. “Ons moet nou vennootskappe vorm en die landbou in daardie areas ontwikkel. Ek het vir hulle gesê ons [Agri SA] kan ’n enorme bydrae lewer.”

Kriek sê baie mense neem hom kwalik vir sy herhaalde, openhartige erkenning van hierdie geskiedkundige feite. “Daar is leiers wat sê ’n mens moet nooit daardie woorde sê nie. Hulle is bang dit word gesien as ’n skulderkenning wat die deur oopmaak vir vergelding teen blanke boere. Ek sien dit nie so nie en ek het dit nie so bedoel nie. Ek sien dit as ’n eerlike, opregte siening van ons geskiedenis en hoe die Grondwet dit verwoord. Dis dieselfde Grondwet wat ons nou verdedig ten opsigte van artikel 25. ’n Mens kan nie kies watter dele jy verdedig en watter dele jy wil verswyg nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.