Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid oor landelike veiligheid, sê ’n voorstel vir so ’n begroting wat op sy eie gehou word, is op die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se twee dae lange beraad oor plaasmoorde en -aanvalle, asook veediefstal, in Pretoria gemaak.  

“Voldoende finansiering en toerusting kan ’n veiliger landelike omgewing daarstel,” het Breytenbach ná die beraad aan Landbouweekblad gesê. Die beraad het verteenwoordigers van verskeie belangegroepe bymekaargebring, onder meer landbou-organisasies en die polisie, om oor moontlike oplossings te praat. Breytenbach sê die gees op die beraad was opbouend, nie polities nie.

“Met die afsluiting is duidelike riglyne met sperdatums gegee. Dit het bevestig dat daar nie net gepraat is nie, maar dat daadwerklike optrede verwag kan word wat later tot inwerkingstelling en toepassing kan lei.”

HOFSAKE SLOER

Een van die kwessies wat volgens Breytenbach beslis aandag moet geniet, is dat hofsake sloer. “Dit ontmoedig mense om sake aan te meld, aangesien dit soms jare duur voor ’n saak afgehandel is. Die klaer moet dikwels terugkeer omdat sake oor onbenullighede uitgestel word.”

Mnr. Willie Clack, kriminoloog en voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, het ook die hou van die beraad as ’n geleentheid vir dialoog en die soeke na oplossings verwelkom. “Ons sal egter eers weet of die uitkoms gunstig is indien ’n voorlegging aan die Parlement gemaak en aksiestappe duidelik gestel word.”

Clack sê daar word nog nie na die werklike oorsake van die probleem gesoek nie. “Die oplossings wat op die tafel kom, is daarop gemik om misdaadgetalle te laat daal, en nie om aandag aan die werklike probleme te gee nie.

“Wanneer wette gewysig word wat ’n invloed het op die maatskaplike omgewing, soos die Esta-wet, die onteiening van grond met of sonder vergoeding of arbeidswetgewing, word dit nie vóór of ná inwerkingstelling ondersoek nie.

“Verstedeliking, die ontvolking van die platteland en die feit dat sake-ondernemings op die platteland nie aan Suid-Afrikaners in die breë konteks behoort nie, word nie in aanmerking geneem nie. So ook nie die invloed van sekulêre en nie-sekulêre organisasies, wat uiters belangrik vir harmonie in landelike gebiede is, nie,” sê Clack.

WAAR IS DIE DG’S?

Hy is bekommerd dat mnr. Mike Mlengana van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (wat enkele dae later vir ’n tweede keer geskors is – sien die berig op bl. 14) die enigste direkteur-generaal teenwoordig was.

Sy eweknieë in die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Departement van Arbeid, wie se mandaat dit is om die besluite van die beraad uit te voer, was afwesig. Hy vind dit ook ontstellend dat nie mnre. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, of Sfiso Buthelezi, adjunkminister, daar was nie.

Mlengana het met die opening van die beraad gesê plaasmoorde is nie op wit mense gerig nie. Wanneer die lied “Kill the boer, kill the farmer” gesing word, beskou hy dit as ’n lied wat ook op hóm as boer gerig is. Hy het met ’n gehoorlid se opmerking saamgestem dat mense se “grondloosheid” ’n onderliggende oorsaak van misdaad in landelike gemeenskappe is.

Hy het sy versekering gegee dat die Regering se bedoeling met die debat oor onteiening sonder vergoeding nie is om enigeen se grond te vat nie, veral nie produktiewe grond nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.