Volgens die Departement van Omgewingsake voer die voorgestelde wetgewing aan dat mensgemaakte klimaatsveranderinge ’n ernstige bedreiging is. Dit vereis ’n doeltreffende en gekoördineerde reaksie.

Die verwagte plaaslike impak van klimaatsverandering het, volgens dié wetgewing, die vermoë om Suid-Afrika se ontwikkelingsdoelstellings te ondermyn. Die reaksie teen dié bedreiging vereis dus ingryping deur middel van wetgewing.

Die Tesourie het in 2016 reeds voorgestelde regulasies vir koolstofvrystelling en -belasting vir openbare kommentaar gepubliseer.

Die Tesourie het vroeër vanjaar aangedui dat die belasting op 1 Januarie 2019 ingestel sal word.

Mnr. Matthew Burnell, direkteur by die regsfirma Herbert Smith Freehills, sê die wetsontwerp bied die regulatoriese raamwerk wat aandui hoe die land ’n volhoubare oorgang na ’n laekoolstofekonomie kan skep en bestuur.

Die wetsontwerp bied ’n prosedurele raamwerk wat ontwikkel sal word deur die skep van verdere raamwerke en planne. Dit is onseker wat die presiese impak van die voorgestelde wetgewing op besighede gaan wees, sê hy.

Nie sterk genoeg

Die sentrum vir omgewingsregte (CER) ondersteun die skep van wetgewing om klimaatsverandering te versag, maar is bekommerd dat die voorgestelde wetsontwerp nie sterk, dringende en omvattende maatreëls bevat om klimaatsverandering aan te pak nie.

Me. Nicole Loser, prokureur by die CER se afdeling vir besoedeling en klimaatsverandering, sê die wetgewing sal net doeltreffend wees as dit duidelik voorsiening maak vir groter deursigtigheid, monitering en die verifikasie van verslae en assessering, en streng wetstoepassing as nie aan vereistes voldoen word nie. Sy sê verskeie bepalings wat met koolstofbegrotings te doen het, blyk opsetlik vaag te wees, wat die deur ooplaat vir misbruik.

Groot boetes

Daar word van min. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, verwag om die volume kweekhuisgasvrystelling te bepaal wat oor ’n sekere tydperk in Suid-Afrika aanvaarbaar is. Wanneer hierdie beperkinge gepubliseer word, sal alle regeringsfere, regeringsentiteite en individue daartoe verbind word. Sektorale uitlatings moet ook uiteengesit en elke vyf jaar hersien word.

Maatskappye kan beboet word as hulle nie ’n plan vir kweekhuisgasse opstel, indien en toepas nie, en as hul vrystelling die goedgekeurde kweekhuisgasbegroting oorskry. ’n Eerste oortreder kan met tot R5 miljoen beboet of tronkstraf van ’n maksimum van vyf jaar opgelê word. ’n Tweede oortreding kan tot ’n boete van R10 miljoen en/of tronkstaf van tot tien jaar lei.

Loser sê egter dat die boetes nie ’n voldoende afskrikmiddel is nie, veral weens die afwesigheid van administratiewe boetes vir nie-nakoming, aangesien suksesvolle strafregtelike vervolging glo skaars is.

Die wetsontwerp laat ook toe dat iemand wat onder “uiterste omstandighede” nie aan die kweekhuisgasbegroting voldoen het nie, by die minister aansoek kan doen vir uitstel om daaraan te voldoen. 

Dit en die lae strafregtelike boetes sal voldoening aan die wetgewing heeltemal ondoeltreffend maak, sê sy.

Geskrewe kommentaar oor die wetsontwerp kan tot 8 Augustus gelewer word.

Die voorgestelde wetgewing kan hier gekry word by. Kommentare kan na climate@environmment.gov.za gestuur word.