Die skenking is gister (6 Februarie) aan Agri SA oorhandig. Agri SA koördineer verskeie projekte om droogtehulp aan boere reg oor die land, maar veral die Noord- en Oos-Kaap, te verskaf.

Luidens ’n verklaring is dit vir Santam belangrik om bystand aan boere te verleen aangesien dié korttermynversekeraar die grootste markaandeel in die landboubedryf het. Die maatskappy voel dit is belangrik om hulp te verleen aangesien die bedryf voedselsekerheid en werksgeleenthede voorsien. Santam het ook in April 2019 ’n skenking van R300 000 aan Agri SA se droogterampfonds gemaak.

Me. Lizé Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam, sê die doel van die skenking is om nie net om boere te help nie, maar ook die landbou se waardeketting te beskerm en te voorkom dat nog boere en verwante besighede die bedryf verlaat. “Ons is ’n Trots Suid-Afrikaans maatskappy en kan nie net staan en niks doen nie. Ons sien dit as ons plig en verantwoordelikheid om ondersteuning te bied.”

Mnr. Temba Mvusi, direksielid van Sanlam en hoof van Sanlam Group Market Development, sê die maatskappy hoop dat die skenking sal help om mense se vermoë om ’n inkomste te verdien te verseker. “Watersekerheid is ’n ernstige kwessie in Suid-Afrika en iets wat Sanlam graag wil oplos. Ons kan dit nie alleen doen nie. Ons moedig ander om dit saam met ons aan te pak.”

Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê boere en plaaswerkers is uiters dankbaar vir die skenking en dat dit nie net verligting nie, maar ook hoop bring.  Agri SA versoek ander maatskappye om soos Santam en Sanlam te help om die landboubedryf deur die droogte te dra.