Hoewel weerstelsels teen middel Augustus nog in die neutrale gebied van die temperatuurreeks vir die El Niño-gebiede beweeg, dui voorspellings steeds aan dat daar ’n groot waarskynlikheid is dat ’n El Niño-weerstelsel teen Oktober vanjaar kan ontwikkel, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou.

Die Australiese buro vir meteorologie het teen middel Augustus gesê die onderskeie weerstelsels wat hy vir sy verslae oor die Enso- (El Niño Suidelike Ossillasie) indeks bestudeer, dui steeds op ’n kans dat ’n El Niño-stelsel kan ontwikkel. Die buro het in Julie gesê die kans op die voorkoms van ’n El Niño-stelsel is 60%.

“Die meeste internasionale modelle wat deur die buro nagegaan is, voorspel dat die tropiese Stille Oseaan binne die volgende paar weke gaan begin verwarm. Die meeste modelle dui aan dat El Niño-vlakke (seetemperatuurvlakke) teen einde vanjaar bereik gaan word, terwyl die meeste aandui dat dié vlakke teen die middel of die einde van die lente bereik kan word,” sê die buro.

Wisselvalligheid

Volgens Van den Berg toon die Indiese Oseaan-dipool (IOD) tans tekens dat dit kan oorgaan in ’n positiewe fase. “Dit beteken dat see-oppervlaktemperature nader aan die Afrikakuslyn betreklik warmer gaan wees as nader aan Australië in die oostelike Indiese Oseaan.”

Van den Berg sê die hoë mate van wisselvalligheid van see-oppervlaktemperature in die Indiese Oseaan maak voorspellings egter baie onakkuraat. “Indien die gunstige fase van die IOD-ver- skynsel gaan ontwikkel, kan dit die waarskynlikheid vir die verhoogde voorkoms van tropiese laagdrukstelsels en siklone in die midsomer verhoog.

“ ’n El Niño-stelsel word dikwels gekenmerk deur bogemiddelde reënval in die lente en die eerste deel van die somer, maar minder reën in die midsomer met die uitsondering van Februarie wat meer neig na gemiddelde reënval,” sê Van den Berg.

“Indien die IOD-verskynsel in die gunstige fase ontwikkel (wat warmer water meer weswaarts beteken), kan dit saam met El Niño ’n verhoogde kans vir ondergemiddelde reënval van November tot Januarie veroorsaak. Dit is ook hoogs waarskynlik dat die oostelike deel van die somerreëngebied minder onderhewig gaan wees aan die gesamentlike uitwerking van die El Niño-stelsel en die IOD-ver-skynsel as die sentrale tot westelike dele.”

Die reënval en swaar sneeu wat in die tweede week van Augustus oor die somerreënstreek voorgekom het, kan volgens Van den Berg dui op droër toestande in die somer.

Reën in die Wes- en Suid-Kaap

Volgens Van den Berg kan die Wes- en Suid-Kaap reën in die tweede helfte van Augustus en in September verwag. Die Suid-Kaap kan in Augustus en September minder reën verwag as die westelike en suidwestelike dele van die Wes-Kaap, maar kan steeds gemiddelde reënval verwag.

Vooruitsigte lyk tans gunstig vir betreklik goeie produksietoestande vir wintergrane met die minste reënval wat in September verwag word. “Daar is egter aanduidings van bogemiddelde reënval vir Oktober wat die gehalte van grane kan benadeel wat dan in die rypwordings- of stroopproses gaan wees,” sê Van den Berg.

“Reënval in daardie tyd kan egter help om die uitwerking van die droogte van die afgelope paar seisoene verder te verlig.” Mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder van Nampo en bemarking by Graan SA, sê volgens voorlopige inligting van boere word skade aan wintergrane tussen Heidelberg en Mosselbaai verwag weens droogtetoestande.

“Die gars en hawer is nog redelik, maar die koring kry bitter swaar.” Hy sê ’n boer in die Heidelbergvlakte se gemiddelde reënval per jaar vir die afgelope 19 jaar is 406 mm, en vir dié jaar tot op datum het die boer nog net 141 mm gemeet. “Weidings in die gebied is onder groot druk en mielies en strooi kom reeds van die binneland af hier aan.”

Volgens Wessels kan die gebied nog ’n redelike oes verwag mits baie laat reën in Augustus en September voorkom, hoewel die tonnemaat ’’drasties’’ minder sal wees. “Dit is nog te vroeg om van ’n misoes te praat, maar as die reën wegbly, is hier groot moeilikheid.”

Australië se koringoes

Intussen sê Van den Berg dat vooruitsigte vir Australië se koring- oes, een van die wêreld se grootste koring uitvoerlande, gedaal het. Luidens die Universiteit van Queensland se nuutste koringproduksieverslag word ondergemiddelde tot gemiddelde oeste in die Queensland-streek verwag – een van Australië se belangrike produksiestreke.

Reënval in Augustus en September is egter ’n belangrike bepalende faktor vir dié land se koringoes. Sowat 40% van dié gebied en die suidelike dele van Australië se reënval kom gewoonlik van Augustus tot Oktober voor.

Van den Berg sê dit is belangrik om produksietoestande dop te hou, aangesien daar ’n sterk korrelasie tussen Australië en Suid-Afrika se klimaatstoestande is. “Swak wintergraan-produksietoestande in die oostelike produksiestreke van Australië word gewoonlik opgevolg deur swak somergewas-produksietoestande in Suid-Afrika, en omgekeerd.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.