Volgens mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van die Senwes-groep, het die maatskappy in die boekjaar 2017-’18 die grootste mielie-oes opgeberg wat Suid-Afrika tot nog toe opgelewer het. Dit het Senwes se nabelaste wins ’n hupstoot van 86% gegee – van R167 miljoen in 2017 tot R311 miljoen in die afgelope boekjaar.

“Die groep se resultate het vinnig herstel ten spyte van struikelblokke wat aan die insetkant voorgekom het. Wesensverdienste per aandeel het met 87% gestyg en ’n opbrengs op die openingsekwiteit van 16% (2017; 9%) is behaal,” sê hy.

“Ons kapitaalprogramme wat daarop gerig is om die doeltreffendheid van die silo-infrastruktuur te verhoog, lewer goeie resultate. Die eerste fase daarvan is teen die jaareinde afgehandel en fase twee volg in die nuwe boekjaar.”

Dividend

’n Finale dividend van 27c per aandeel is verklaar, onderhewig aan die goedkeuring daarvan op die algemene jaarvergadering op 22 Augustus. Verlede jaar se dividend was 25c per aandeel. Senwes se bedryfswins voor rente en belasting het van R433 miljoen tot R655 miljoen gestyg, met ’n toename in die bedryfsmarge tot ’n omset van 4,2% tot 6,9% vanjaar.

Die kontantvloei wat uit bedryfsaktiwiteite gegenereer is, was R281 miljoen (2017; R165 miljoen), selfs nadat R128 miljoen in verhoogde bedryfskapitaal belê is. Die totale dividende is met 20% verhoog vanaf 45c per aandeel verlede jaar tot 54c per aandeel (tussentydse en voorgestelde finale dividend) in die boekjaar.

Die dividendopbrengs op die openingsmarkprys het 5,2% beloop, teenoor 4,3% verlede jaar.

Toekoms

Volgens Strydom staal Senwes hom vir ’n uitdagende jaar wat voorlê met die verwagte aanplantings wat gedoen sal word op ’n oppervlakte wat 12% kleiner is en ’n laat seisoen wat laer volumes as die vorige jaar tot gevolg sal hê.

“Die vorige seisoen het egter heelwat momentum verskaf en groot volumes oordragvoorraad behoort ’n goeie opbergingsinkomste te verseker,” sê hy. “Daar is egter aanduidings dat die kleinhandels-, krediet- en meganisasiebesigheid ’n moeiliker tyd sal beleef met minder kontantvloei.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.