Senwes het begin Februarie in ’n inskrywing op sy Facebook-profiel sy personeel versoek om “die boere se probleme weg te braai” met ’n braai op die maatskappy se perseel. Mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, het ’n uitdaging tot alle Suid-Afrikaanse maatskappye gerig om dieselfde te doen. Dié uitdaging is volgens mnr. Marlon Abrahams, kommunikasiebestuurder by Senwes, deur 200 000 mense op Facebook gesien.

Die veldtog word nou uitgebrei om Suid-Afrikaners aan te moedig om plaaslike produsente se produkte te gebruik. Die volgende bedryf waarop gekonsentreer word, is die pluimveebedryf. Die idee is om plaaslike pluimveeprodusente, wat onder groot druk verkeer weens invoer, te ondersteun. Senwes se personeel sal selfies van hulself op sosiale media plaas met die hutsmerk #eetplaaslikehoender of #eatlocalchicken om hul ondersteuning aan produsente in dié bedryf te wys.

 Strydom sê die veldtog, wat die res van die jaar sal duur, sal ook konsentreer op produsente van nisprodukte soos koffie, pekanneute, avokado's, ens. “Ons sal natuurlik die meer bekende kommoditeite ook insluit en prettige leuses daaraan heg, soos: Slaptjip-Donderdag (aartappelboere), Graan-Dinsdag (graan-/koringboere), Melkerige Maandag (melkboere); Vrugte-Vrydag (vrugteboere); Sonneblom-Sondag (oliesaadprodusente), Vleiserige Vrydag (rooivleisprodusente); Mondvol Maandae (verskeie kommoditeite); ens. Ons sal ook die skaap-, vark-, soja- en visbedryf insluit. Dit is ’n prettige manier om die kollig te plaas op die baie ernstige verhouding wat boere met alle Suid-Afrikaners en die Suid-Afrikaanse ekonomie in geheel het.”

Die verandering

Hy sê die landbousektor speel ’n deurslaggewende rol in werkskepping in elke aspek van die waardeketting, van die plaas tot op die tafel, en het ’n groot impak op die land se fiskus. “Die landbou is die hoeksteen van enige suksesvolle ekonomie, ongeag die land waarvan ons praat. Ons moet die belangrikheid van die produksie en aankoop van plaaslik geproduseerde goedere, pleks van die invoer en aankoop van buitelandse produkte, beklemtoon.”

Hy meen Suid-Afrikaners moet verstaan dat die aankoop en produksie van plaaslike produkte ’n werklike impak het op werkskepping en werksekerheid, asook op volhoubaarheid.

“Politici gaan nie die verandering maak wat ons nodig het nie, maar ons, gewone Suid-Afrikaners, sal en dit kan begin deur bewusmakingsveldtogte soos hierdie. Ek bedank elkeen wat gehoor gegee het aan ons aanvanklike veldtog, #braai4farmers, en rig ’n versoek aan alle Suid-Afrikaners om weereens die veldtog te ondersteun. Hou Senwes se sosiale platforms dop vir deurlopende dekking van ons inisiatief,” sê Strydom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.