Gedeeltes rondom die Tsitsikamma en verder die binneland in, na plekke soos Joubertina, het al verskeie kere swaar reën in dié maand gehad. Dit word veroorsaak deur tropiese vog wat tot sneeu en swaar reën lei.

Van den Berg sê die afgelope 36 jaar is meer as 100 mm reën al nege keer gedurende September in die streek aangeteken. Die metings was 130 mm in 1982, 185 mm in 1993, 166 mm in 1999, 144 mm in 2000, 145 mm in 2001, 156 mm in 2016 en 153 mm in 2016. Aanvanklike metings vir dele van die Langkloof vir die eerste deel van September vanjaar is tot 355 mm.

Ekstreme weerverskynsels

September is volgens Van den Berg dikwels die maand waartydens ekstreme weerverskynsels oor veral die Oos-Kaap kan voorkom.

• Op 16 September 1964 het ’n sterk hael- en reënstorm gedeeltes van die Oos- en aangrensende dele van die Suid-Kaap getref, met die ergste reën rondom Uitenhage. Swaar reën het tot by George uitgesak en daar is 132 mm vir die dag gemeet.

• Op 1 September 1968 het ’n swaar reënstorm die gebied rondom Port Elizabeth getref en tot 560 mm is gemeet.

• Op 21 September 1997 het ’n swaar haelstorm die Langkloof getref.

• Op 26 tot 28 September 1987 het swaar sneeuneerslae die noordelike dele van die Oos-Kaap getref, met veral plekke soos Elliot en Molteno wat beïnvloed is.

Ander dele van die land het ook al ekstreme weerverskynsels gedurende September aangeteken. “Daar was ook byvoorbeeld vloede in die Suid-Kaap op 23 en 23 September 1983 en sneeu op 10 September 1981 oor groot gedeeltes van die noordoostelike dele van die binneland, op plekke soos Amersfoort, Bethal, Witbank en selfs Johannesburg. Op 4 en 5 September 1989 het dit baie swaar in die Koue-Bokkeveld gesneeu en is al die berge in die omgewing bedek met sneeu. Verskeie bergpasse was gesluit.”

Reënvalvooruitsigte

Wat die res van 2018 betref, sê Van den Berg in teenstelling met vorige voorspellings lyk dit asof die reënvalpatroon skuif en dat die meeste reën oor die suidelike en droogtegeteisterde dele van die Oos-Kaap binne die volgende maand of twee gaan voorkom.

Toestande lyk ook gunstig vir reën oor die grootste gedeeltes van die Wes-Kaap gedurende September en Oktober. “Die tydige reën behoort te sorg vir rekordwintergraanoeste, maar reën in die tydperk wanneer grane volwassenheid bereik en tydens oestyd kan probleme veroorsaak,” sê Van den Berg.