Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) is teleurgesteld dat mnr. Fikile Mbalula, Minister van Polisie, gesê het dat die polisie nie tans spesialiseenhede vir landelike beveiliging oorweeg nie. Dr. Pieter Groenewald, partyleier, sê luidens ’n verklaring hy het ’n vraag in die Parlement in die verband tot Mbalula gerig, veral omdat volgens die party se inligting ses moorde in 23 gevalle van geweld op plase in Augustus vanjaar aangeteken is.

Hoewel die polisie sê dat hy voortgaan om voorrang te gee aan plaasmoorde, is dit net lippetaal aangesien Mbalula meen die stappe wat tans gedoen word om boere te beskerm, is voldoende, sê Groenewald.

Volgens Groenewald is die bestaande strategie vir die beveiliging van landelike gebiede gebrekkig, veral ten opsigte van die toepassing daarvan. “Tans is daar ongeveer 20 polisiekantore in landelike gebiede wat nie eens aan die minimum vereistes van sektorpolisiëring voldoen nie.”

Groenewald sê dit is wel verblydend dat Mbalula onderneem om die kapasiteit by landelike polisiekantore te verhoog en dat verskeie stappe gedoen word om veiligheid in dié gebiede te verhoog. “Ek sal met ’n opvolgvraag aan die minister vra presies wat hy bedoel met ‘verhoogde kapasiteit’ by landelike polisiekantore sodat ’n mens kan vasstel of dié onderneming daadwerklik uitgevoer gaan word.”
 

Verdagtes gesoek ná plaasaanval by Ceres

Intussen word tot vier verdagtes gesoek nadat mnr. Wilhelm van der Merwe, ’n boer van die Koue-Bokkeveld, op Maandagaand 9 Oktober 2017  sowat 50 km van Ceres af aangeval is. Van der Merwe is deur sy werkers op sy kantoor se vloer gevind nadat hy glo 20 keer met ’n mes gesteek is.

Die werkers het hulp ontbied van Van der Merwe se vrou en bure. Mnr. Heini du Toit, een van Van der Merwe se bure en voorsitter van Agri Witzenberg, sê die polisie en nooddienste was vinnig op die toneel. Van der Merwe is aanvanklik na ’n plaaslike hospitaal geneem, maar word tans in ’n hospitaal in Kaapstad behandel. Een van sy longe het platgeval.

Du Toit sê die plaaslike boerevereniging is reeds geruime tyd besig om om hul plaaswagstelsel op te skerp. Die veiligheidsnetwerk gaan nou nog harder aangedryf word. Nog ’n kwessie waarmee die boerevereniging al  jare lank sukkel, is dat die plaaslike polisiekantoor nie 24 uur per dag beman word nie.
 

Strenger toegangsbeheer op plase nodig

“Dit is angswekkend dat mense wat werk en voedsel aan hulle gemeenskappe en land verskaf, so wreed aangeval kan word,” sê mnr. Carl Opperman, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap. Hy sê hulle is dankbaar dat Van der Merwe nie vermoor is nie. Die organisasie wens hom en sy familie ’n spoedige herstel toe. “Ons wil ook die gemeenskap bedank vir die vinnige reaksie op die noodoproepe.”

Opperman sê die voorval bewys weer dat strenger toegangsbeheer op plase toegepas moet word. Hy moedig boere aan om enige vreemde mense of voertuie wat hulle in hul omgewings opmerk, by hulle plaaslike veiligheidsnetwerke aan te moedig.