Die huidige komitee sal nie genoeg tyd hê om sy werk te voltooi nie, aangesien die parlement op 20 Maart verdaag met die algemene verkiesing wat op 8 Mei plaasvind.

Die ad hoc-komitee het ’n verslag van sy werksaamhede saamgestel wat by die nasionale vergadering ingedien sal word.

Me. Thoko Didiza, komiteevoorsitter, sê in die verslag word voorgestel dat die nasionale vergadering moet kennis neem dat die komitee nie sy werk kon voltooi voor die einde van die parlementêre termyn nie.

Daar word aanbeveel dat die sesde parlement die wysiging van artikel 25 van die Grondwet moet finaliseer.

Die komitee het sy werk op 12 Februarie begin en verskeie kenners rakende grondhervorming en die Grondwet ingeroep om hom te adviseer oor hoe die wysigingswetsontwerp daar moet uitsien.

Die verslag is aanvaar, met die DA en die ACDP wat die reg voorbehou rakende die voorstel dat die sesde parlement die wysiging van artikel 25 van die Grondwet moet finaliseer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.