In ’n radio-onderhoud met me. Refilwe Moloto, ’n ekonomiese en beleggingstrateeg en aanbieder by Cape Talk, oor die bekendstelling van sy boek Finding common ground het Sihlobo gesê die landbou is een van die belangrikste sektore wat met ekonomiese groei en ontwikkeling kan help.

Hy het gesê ramings wissel baie, maar die staat het sowat 9 miljoen ha landbougrond waarvan die titelaktes in sy besit is. Pleks daarvan om aan hierdie grond vas te klou, kan dit met verhandelbare langtermynbruikhuurooreenkomste of selfs met volle eiendomsreg oorhandig word aan begunstigdes wat behoorlik gekeur is. Veral vroue en jeugdiges kan só bemagtig word.

Hy het beklemtoon dat onteiening sonder vergoeding vermy moet word. “Die landbousektor in Suid-Afrika is ’n kapitaalintensiewe sektor. As mens dit wil aanwend as een van die sleutelsektore in die ekonomie – soos wat beoog word en veral in die lig van ekonomiese herstel ná die gevolge van Covid-19 – sal baie beleggings in die sektor nodig wees. Onteiening sonder vergoeding sal hierdie ekonomiese doelwitte ondermyn.

“Onteiening sonder vergoeding is nie nodig om grondhervorming te laat slaag nie. Daar is verskeie ander opsies soos grondskenkings en vennootskappe tussen die staat en private sektor, wat op die oomblik in beleid omskep word en beter opsies as onteiening is.”

Nog een van die voorstelle in sy boek is om ’n grondhervormingsfonds op die been te bring waartoe die staat en die private sektor kan bydra om landbougrond op die ope mark vir grondhervorming te koop.

Luisteraarsvraag

Op ’n luisteraarsvraag of hierdie opsies nie maar altyd daar was nie en of dit nie eintlik die laksheid van die regering en die “wit gronddiewe” is om grond te herverdeel wat die proses laat misluk nie, het hy gesê opsies soos die hervormingsfonds en grondskenkings is nuwe voorstelle.

“Dit is ook verkeerd om te sê daar is ’n onwilligheid by die betrokkenes om gemeenskaplike grond te vind. Mense besef die dringendheid en belangrikheid van grondhervorming.”

Hy sê ’n groot rede hoekom baie grondhervormingsplase misluk het, is omdat die regering veral ná 2006 plase gekoop en sonder titelaktes aan begunstigdes oorgedra het. Begunstigdes het geen manier gehad om kapitaal vir produksie te bekom nie en daar was ook geen ander vorme van steun nie.

“Niemand wil met ’n situasie eindig waar swart mense met landbougrond sit, maar nie in staat is om kapitaal te bekom vir produksie nie. Daarom moet iets soos onteiening sonder vergoeding vermy word. “

Hy het gesê daar moet ook ernstig gekyk word na die kommersialisering van swart boere om die dinamika te verander dat die kommersiële sektor as wit en kleinskaalse boere as swart gesien word. Kleinskaalse boerderye kan nader aan stedelike gebiede ontwikkel word waar kommersiële plase nie moontlik is nie. Daar moet veral gekonsentreer word op hoëwaarde-produkte en arbeidsintensiewe boerderye.

Sedert 1994 is die fout gemaak om met grondhervorming net die klem op landbougrond te lê. Daar moet ook aandag geskenk word aan grondhervorming in residensiële gebiede en selfs in nywerheidsgebiede.