Ná die ramptoestande wat in Mosambiek, Malawi en Zimbabwe voorgekom het weens die sikloon Idai vanaf ongeveer 10 Maart vanjaar, is daar baie spoke opgejaag oor die voorkoms en uitwerking van siklone, veral ook oor Suid-Afrika.

Daar is verskillende benamings oor die wêreld heen vir dieselfde verskynsel. In party dele van die wêreld word dit tifone (typhoons, in die noordwestelike Stille Oseaan) of orkane (hurricanes, Atlantiese en oostelike Stille Oseaan) genoem, maar dit is presies dieselfde as ’n tropiese sikloon.

Tropiese siklone se sterkte word gemeet aan die gemiddelde windsnelhede, asook rukwinde se snelhede, en daarvolgens vanaf kategorie 1 tot kategorie 5 geklassifiseer. Kategorie 1 is die swakste (minder sterk) met windsnelhede van 90-125 km/h en kategorie 5 die sterkste met windsnelhede van meer as 280 km/h. Daarmee saam kan baie reën voorkom, maar reën is nie deel van die kriteria nie.

Tropiese siklone ontstaan oor die oseane wanneer die see-oppervlaktemperature deurentyd bo sowat 26 ºC is. Dit is hoekom siklone altyd nader aan die ewenaar (trope) vorm in die tradisioneel warmer oseane, soos die Indiese en Stille Oseaan, want die water is warmer as nader aan die pole.

Patroon van vernietiging

Daar word dikwels gevra hoekom siklone nie ook oor landmassas ontstaan nie. Die rede is dat die dag- en nagtemperature op land taamlik verskil, terwyl die seetemperature bedags en snags meer eweredig is. Gevolglik verskaf die see ’n meer aaneenlopende voedingsbron van energie.

Siklone kan egter oor land inbeweeg nadat dit oor die see ontstaan het, maar verloor dan vinnig energie as gevolg van die fisieke ontlading van energie aan die landoppervlak, soos bome, huise en ander strukture wat deur die storm vernietig of beskadig word.

Siklone ontstaan dus vanweë ’n baie sterk opwaartse lugbeweging wat vogtige lug na die hoër, kouer luglae van die atmosfeer opneem. Die lug kondenseer en wolke en baie reën vorm. Die droë, “uitgereënde” lug word neergeplaas as dalende lug wat ’n hoogdrukstelsel vorm. Dit is waarom dit gewoonlik baie droog en warm is oor die aangrensende landmassas indien siklone oor die oseaan voorkom. Daar is puik aantekeninge oor tropiese siklone op die internet beskikbaar. Kyk gerus na die webwerf http://australiasevere weather.com/cyclones/index.html wat oor baie jare elke sikloon se pad in byvoorbeeld die Indiese Oseaan grafies voorstel.

Die geskiedenis van tropiese siklone in die Indiese Oseaan  

In ’n ontleding van die siklone in die Indiese Oseaan vanaf die 1959-’60-sikloonseisoen tot nou, kom die volgende inligting na vore.

Daar is gemiddeld 13 tropiese siklone per jaar in die Indiese Oseaan in die gebied wes van Australië. Die meeste siklone beweeg aanvanklik van oos na wes, die teenoorgestelde rigting as waarin normale weerstelsels beweeg. As dit verswak, beweeg dit suidoos- en ooswaarts weg in die Indiese Oseaan en verdwyn. Sedert 1959-’60 was daar 37 siklone wat Afrika getref het, met byna almal wat in Mosambiek voorgekom het. Dit is meer as een sikloon elke twee jaar!

Van 1959-’60 het 104 siklone tot in of naby die Mosambiekkanaal gevorder. Daar was ongeveer 190 siklone wat Madagaskar getref het of net oos van Madagaskar was (wat ’n invloed op die weer oor Suider-Afrika kon uitoefen). Dit sluit die siklone uit wat die Afrika-vasteland getref het of net oor die Mosambiekkanaal beweeg het. Dit is by uitsondering dat ’n sikloon dieper die binneland wes van Mosambiek inbeweeg, maar daar was wel gevalle, soos in 1976-’77 toe die verswakte sikloon tot so ver as Namibië weswaarts beweeg het.

In 1999-2000, 2002-’03, 2006-’07, 2016-’17, asook sikloon Idai vanjaar, het siklone so ver as Zimbabwe en Malawi beweeg. In 2002-’03 was daar ook siklone wat Malawi en Tanzanië getref het. Verder was daar ook minstens 10 gevalle waar die siklone só naby aan die Mosambiekse kusgebied voorgekom het (in die Mosambiekkanaal) dat dit swaar reën oor kusgebiede veroorsaak het.

In 1984 het die sikloon Domoina taamlik ver suid die kuslyn bereik en swaar reën oor dele van KwaZulu-Natal en Mpumalanga veroorsaak. Die windgevaar was nie so groot nie, maar die hoeveelheid reën was besonder baie met tot 950 mm wat in ’n paar dae oor Richardsbaai en Sodwana gemeet is. Die hoogste reënval op een dag was 615 mm by Pigg’s Peak.

Gemeenskapskwesbaarheid

Dit is ’n gegewe dat die kusgebiede van Mosambiek aan gereelde skade deur siklone en intense laagdrukstelsels onderhewig is. Historiese inligting toon Mosambiek kan omtrent een keer elke twee jaar deur ’n sikloon getref word en dit kan byna enige plek aan die kuslyn gebeur, dalk meer kere verder noord as na die suide. Dit is net wanneer dit stede en groot dorpe tref, dat die skade baie groot is.

In ’n rowwe skatting vanaf satellietbeelde is dit duidelik dat ’n stad soos Beira sedert byvoorbeeld 2004 byna verdubbel het in oppervlakte. Die grootste deel van die stad is in die vloedvlakte van ’n taamlik groot rivier, die Pungwe, wat in die Indiese Oseaan uitmond. Die mond is 10-12 km wyd.

Beira is, nes ander stede aan die Mosambiekse kus, kwesbaar, en met ’n groeiende bevolking en uitbreidings raak dit ál meer kwesbaar. Die gebied was nog altyd aan sikloonaktiwiteit onderhewig, en toekomstige siklone sal nóg erger skade veroorsaak as dit groter dorpe en stede regstreeks gaan tref.

Soos genoem, siklone ontstaan oor see-oppervlakke waar die temperatuur taamlik hoog is (bo 26 ºC). Verder moet onthou word dat die oseane in ’n groot mate die opbergplek van energie is. As die atmosfeer warmer word, sal die oseane se temperatuur ook styg. Dit kan intenser siklone tot gevolg hê.

Die toenemende kwesbaarheid van gemeenskappe vanweë ’n groter bevolking en ’n wyer verspreiding, die toenemende verandering van die omgewing (wat byvoorbeeld die natuurlike vloei van water belemmer en meer afloop vanaf paaie en dakke veroorsaak), en die uitwerking van klimaatsverandering kan tot groter rampe lei. Siklone is normaal vir Mosambiek. Die omvang van skade en rampe hang eintlik net af van waar die sikloon tref. ’n Klein verandering in die normale weerpatrone kan nou rampspoedige gevolge inhou. 

Mnr. Johan van den Berg is ’n klimatoloog by Santam Landbou.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.