Dele van Suid-Afrika het reeds oorstromings begin ervaar nadat swaar reënval van middel Desember begin voorkom en grondwatervlakke versadig begin raak het.

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, het vroeër vandeesweek aan Landbou.com gesê die waarskynlikste pad wat die storm gaan volg, is wes in die rigting van Namibië, en dan suidoos oor die sentrale en veral die oostelike dele van Suid-Afrika. “Tydgewys behoort Eloise minder reën oor die binneland te veroorsaak tot ongeveer 24 Januarie. Van 24 tot 30 Januarie kan meer reën oor die sentrale tot oostelike dele van Suid-Afrika voorkom, met baie swaar reën oor die noordoostelike dele van die land, wat insluit die noordelike dele van KwaZulu-Natal, die Laeveld van Limpopo en Mpumalanga.”

Die kans is ook goed vir verdere reën oor die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. “Daar is ’n sterk moontlikheid van redelike hoeveelhede reën in die laaste week van Januarie in die opvangsgebiede van die Vaal- en Oranjerivier, wat die vloedrisiko kan vergroot,” aldus Van den Berg. “Die opvangsgebiede van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal het die grootste risiko. Hierdie water gaan egter Indiese Oseaan toe en tans is damme in daardie gebiede meer ontvanklik vir water as gevolg van minder reën tot dusver.”

Sterk tropiese sikloon

Volgens die weerkantoor beweeg die storm tans oor die noordelike dele van Madagaskar. Dit sal na verwagting môre die Mosambiekkanaal bereik. Soos wat dit oor die kanaal beweeg, sal die storm na verwagting versterk en die vlakke van ’n sterk tropiese sikloon bereik voor dit teen Saterdag Vilankulos in Mosambiek bereik. Dit kan baie swaar reën en sterk wind van 166 km/h tot 213 km/h langs die kus van Mosambiek veroorsaak.

Die stelsel sal na verwagting verswak voor dit Suid-Afrika Sondag bereik. Die weerkantoor sê uitermatige swaar reënval word oor die suidelike dele van Mosambiek, die oostelike Laeveld, die platorand van Limpopo en Mpumalanga, en die noordelike dele van KwaZulu-Natal verwag. Die reën sal na verwagting tot Maandag voortduur. Die weerstoestande kan lei tot wydverspreide oorstromings, skade aan paaie, brûe en ander infrastruktuur.

Die weerkantoor verwag dat Gauteng en Noordwes ook reën sal ontvang, hoewel dié reënval nie noodwendig dieselfde vlakke van skade oor dié dele gaan veroorsaak nie.

Die weerkantoor en Van den Berg sê dis moeilik om die presiese roete van die storm te voorspel. Lede van die publiek moet die nuus dophou vir weervoorspellings of -waarskuwings. 

*Die weerkantoor het Vrydag, 22 Januarie, hul voorspelling opgedateer en verwag dat die storm Sondag die Mosambiekse kus by Beira gaan bereik, met wind van 118 km/h tot 166 km/h wat verwag word. Die kaart onder dui ook die verwagde roete van die storm aan. 

weerkaart eloise 2
Hierdie kaart (verskaf deur die Weerkantoor op 22 Januarie 2021) is deur die Wêreld Meteorologie Organisasie saamgestel oor die voorspelde roete wat die storm kan volg na dit Mosambiek bereik. Bron: Suid-Afrikaanse Weerkantoor/RSMC: La Reunion