AfriForum se private vervolgingseenheid en die familieboernetwerk Saai het die familieboerdery Langspruit Landgoed by Standerton bygestaan om die strafregtelike klagte van bedrog teen die bestuur van die Bloemhof-silokompleks in te dien.

Die klag spruit voort uit ’n onafhanklike ondersoek van die JSE waarin bevind is dat Suidwes Landbou, wat intussen deur Senwes oorgeneem is, se Bloemhof-silo rapporteringsreëls oor silovoorrade oortree het. Daar is bevind dié silo het sertifikate vir 10 800 ton eerstegraadse witmielies gehad, maar daar was net 5 553 ton van dié mielies in die silo.

Weens die erns van die oortreding, is die silo met R1,5 miljoen beboet waarvan die helfte opgeskort is. Dié ondersoek is gelas op aandrang van onder meer Graan SA ná verlede jaar se gerugte oor beweerde bedrog met silosertifikate.

Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê ontvangsbewyse word as waarborg aan die eienaars van die mielies uitgereik en kan verhandel word. Hierdie sertifikaat is veronderstel om die gehalte, hoeveelheid en ligging van die mielies te waarborg. Dit blyk dat al drie hierdie waarborge in dié geval deur die silo-opbergingsgerief misken is.

“As ’n silosertifikaat uitgereik word, moet die hele mark volkome vertroue en sekerheid hê dat die hoeveelheid en die gehalte op die plek wat op die kwitansie aangedui is, opgeberg word en dat die houer van die kwitansie die aflewering van sy graan kan kry sonder vertraging. Dit is baie belangrik vir die integriteit van die hele Suid-Afrikaanse graanmark dat daar aan hierdie verpligtinge voldoen word.”

Langspruit het na bewering skade gely aangesien mielies nie in voldoende hoeveelhede en tempo aan hulle gelewer kon word toe hulle dit vir hoër pryse sou kon verkoop nie. Volgens mnr. Chris Gouws, senior ondersoeker by AfriForum se privaet vervolgingseenheid, beteken dit ook dat Langspruit vir opbergingskoste van mielies moes betaal wat nie bestaan het nie.

Mnr. Janes Barnard, ’n boer van Hoopstad en mede-organiseerder van die gespreksgroep Basis Diff, wat as tussenganger opgetree het, sê ná die skulderkenning het alles stil geraak, maar niks het gebeur oor die skade wat boere gely het nie. “Afhangende van wat met hierdie saak gebeur, sal daar dalk meer boere na vore kom. Niemand weet hoeveel ander boere nie dalk oor jare deur hierdie praktyk skade gely het nie. Bloemhof het bewys dit kon op ander plekke ook gebeur het.”