“Die omkeertyd is nou 49 dae, mits alle dokumente ingedien is en onderhewig daaraan dat alle ander prosesse gevolg is,” het sy met die bekendstelling van die departement se nasionale water-en-sanitasiemeesterplan in Pretoria gesê.

Mnr. Theo Boshoff, hoof van regsintelligensie by die landbousakekamer Agbiz, het in reaksie hierop aan Landbouweekblad gesê die 49 dae hou verband met een deel van die aansoekproses.

Die betrokke regulasie vereis steeds afhandeling binne 300 dae, wat in verskillende dele verdeel is, elk met sy eie tydsvereiste.

“Die (minister se) verbintenis strook met verbintenisse wat deur die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) se werkberaadproses gemaak is om die besluitnemingsproses van die departement te verkort as al die ander nodige stappe klaar gevolg is. Daar is reeds ’n beduidende verbetering, waarvoor die departement sekerlik krediet verdien,” sê hy.

Sisulu het gesê die vinniger afhandeling volg nadat pres. Cyril Ramaphosa vroeër aan die kabinet gesê het dit het hom drie jaar gekos om ’n waterlisensie te kry. “As dit ons drie jaar kos om ’n waterlisensie uit te reik, hoe gaan ons beleggers lok (en oortuig) om te glo dat ons ernstig is daaroor om die ekonomie om te keer?”

Volgens haar is leierskap die noodsaaklikste deel van die uitvoering van die meesterplan. Nie net leierskap nie, maar etiese leierskap deur eienaarskap, verbintenis en professionaliteit.

Sy het onderneem dat die lank agterweë bestuursagentskappe vir opvangsgebiede voor die einde van die huidige administrasie tot stand gebring sal word.

Transformasie

Sisulu het verwys na die mislukking in hertoewysing van water aan swart gebruikers die afgelope 20 jaar. “Waar bestaande waterbronne reeds ten volle gebruik word, gee die Nasionale Waterwet die minister die magte om ’n verpligte lisensiëringsproses te onderneem vir die hertoewysing van watergebruikslisensies.”

Die departement en sy agentskappe sal na alternatiewe waterbronne vir swart kleinboere kyk, soos waar water nie benut word nie, waar meer water uit staatwaterskemas beskikbaar gestel kan word, die bou van klein damme of grondwaterontwikkeling, en die inwerkingstelling van gidsprojekte met vrywillige bydraes van boere vir die hertoewysing van water.

Die meesterplan verwys na die lank verwagte wysiging van waterwetgewing, onder meer rakende die beginsel van “gebruik dit of verloor dit” en die kwessie van tydelike of heeltydse verhandeling tussen gemagtigde watergebruikers.

Luidens die plan moet die wysigingswetsontwerpe in 2021 in die Staatskoerantgepubliseer word, openbare raadpleging moet in 2022 volg, en die wetsontwerpe in 2023 hersien en afgekondig word.

Mnr. Jürgen Kögl, voorsitter van Sisulu se adviespaneel, het ná die tyd aanLandbouweekblad gesê veranderinge rakende die oordraagbaarheid van waterregte sal nie sonder raadpleging met die landbousektor geskied nie.

Mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne van Agri SA, het die meesterplan verwelkom as ’n dokument wat ’n vertrekpunt vir gesprek bied, maar gesê die afhandeling van die verifikasie- en bekragtigingsproses van bestaande, wettige watergebruikers behoort ’n integrerende deel van die plan te wees.

Die meesterplan kan hier gelees word.