Dit is die opdrag wat me. Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, gegee het aan mnr. Trevor Blazer, waarnemende direkteur-generaal van die departement. Sy het ook opdrag gegee aan alle rekenpligtige amptenare in die departement, insluitend waterrade en agentskappe vir menslike behuising, om alle onbetaalde fakture van klein en groot maatskappye in die bou-, water- en sanitasiesektor wat binne 30 dae betaalbaar is, te betaal.

Pres. Cyril Ramaphosa het Februarie in sy staatsrede verklaar dat vanaf 1 April waterlisensies binne 90 dae gefinaliseer sal word en nie meer jare sal kos om toegeken te word nie. Die departement het sy regulasies vir waterlisensies hersien sodat die proses binne die 90 dae kan geskied. Die ou voorgeskrewe tydperk om die lisensies te finaliseer was 300 dae.

Sisulu sê die ministerie het ’n kritieke rol om te speel in die pogings om die land se ekonomie te laat herstel van die skade weens die Covid-19-pandemie.

“Dit sluit in dat ons die uitreiking van waterlisensies moet versnel. Baie besighede en beleggers is hoogs afhanklik van waterlisensies, veral die landbou, mynbou en nywerhede.”

’n Verslag met redes moet binne 14 dae aan haar gelewer word oor alle uitstaande fakture en aansoeke om waterlisensies wat nie binne 100 dae verwerk is nie. Dit moet aandui wat gedoen word om die agterstand in te haal.

Proaktief

Mnr. Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, sê hulle is bly oor die proaktiewe optrede deur Sisulu en die departement wat betref die invordering van rekeninge, asook die afhandeling van agterstallige waterlisensies. “Dit is iets waarvoor ons reeds geruime tyd vra. Ons is verheug dat die minister haar ondernemings in dié verband gestand doen.”

Hy sê Agri SA is nie seker oor die presiese aantal lisensieaansoeke wat uitstaande is in die breë landbousektor nie. Die departement verskaf nie daardie syfers nie. “Ons weet egter van aansoeke van ons lede wat al etlike jare sloer.”

Agri SA pleit vir oordeelkundige besluitnemingsprosesse oor die uitreiking van waterlisensies, wat insluit dat die departement van water en sanitasie alle relevante faktore in ag neem. Die organisasie bly bekommerd daaroor dat die verifikasie van bestaande, regmatige watergebruikers steeds uitstaande is. Hierdie proses behels as’t ware ’n bestekopname van bestaande watergebruiksregte in Suid-Afrika en is noodsaaklik vir oordeelkundige besluitneming vir die verdere lisensiëring en gebruik van Suid-Afrika se skaars waterhulpbronne, sê Rabie.

Wat ’n ligpunt is, is die gereelde skakeling wat die organisasie en sy geaffilieerde lede met die departement het, waar hulle die geleentheid kry om saam oplossings te vind.

Binne die ministerie is daar ook nou ’n ondersteuningseenheid vir besighede. Mnr. Nhlakanipho Nkontwana, ’n raadgewer aan die parlement, staan aan die hoof van die eenheid. Die eenheid sal toesien dat uitstaande betalings betyds gedoen word en dat die uitreik van waterlisensies nie vertraag word nie.

Diegene wat wil hê dat hul aansoeke vinniger verwerk word, kan die eenheid by MBSU@dhs.gov.za kontak.