Wanneer Suid-Afrika uiteindelik die geveg om vrye toegang van vrugte met swartvlek na die Mediterreense lande wen, sal hy waarskynlik ook die volgende stryd teen uitvoerobstruksie rondom die valskodlingmot moet wen, waarsku mnr. Pieter Nortje, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV).

Nortje het tydens Agri SRV se jaarvergadering op Addo, gesê hoewel die voorkoms van valskodlingmot die afgelope 50 jaar afgeneem het, dit nogtans as kapstok gebruik sal word om handelsbeperkings op die land se sitrus-uitvoere na die Mediterreense lande te plaas.

“Ofskoon dit aangevoer word dat die valskodlingmot geen gevaar inhou waar uitvoervrugte tot -0,6 grade Celsius (koue sterilisasie) afgekoel word, bestaan daar tans nie sodanige hawe- en verskepingsgeriewe om aan dié vereiste te voldoen nie. “

Afkoeling

Citrus Research International (CRI) het wel bevind dat indien vrugte tot 2 grade Celsius verkoel word, die valskodlingmot ook nie sal oorleef nie. Dit is ’n saak waaroor onderhandel kan word, sou die kwessie op ’n spits gedryf word.

“Een van die probleme met die afkoeling is dat indien die vrugte nie die optimale kleurontwikkeling het wanneer dit verpak en verskeep word, dit ook nie, terwyl dit op die water is, ’n beter kleurgehalte sal ontwikkel nie. Dit kan tot nadeel van produsente wees.”

Wat die geveg met die EU rakende swartvlek betref, het Nortje gesê dat Suid-Afrika ’n goeie saak het om onredelike handelspraktyke uit te wys. Hy voorspel nietemin dat ’n skikking bereik sal word voor die saak by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) aangemeld word.

“Solank die huidige Minister van Handel en Nywerheid in sy amp bly, sal ons rug gedek wees aangesien hy die standpunt van die SASKV in die opsig onderskryf,” het Nortje aan Landbou.com gesê.