Dit is goeie nuus vir die plaaslike sitrusbedryf, maar die voordele van die stap sal afhang van Amerika se voorwaardes. Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die plaaslike sitruskwekersvereniging, het teen druktyd die besonderhede en voorwaardes van dié marktoegang met die Amerikaanse owerhede bespreek.

Mnr. Piet Smit, besturende direkteur van Komati Fruit, Suid-Afrika se grootste sitrusprodusent en -uitvoerder, sê boere wag nou om te hoor wat die voorwaardes en vereistes gaan wees. Amerika sal waarskynlik aandring op kouesterilisasie.

Selfs vrugte wat in die Wes- en Noord-Kaap verbou word waar swartvlek nie voorkom nie, moet só vir die Amerikaanse mark gesteriliseer word. Sulke vereistes maak uitvoer duurder. Smit waarsku dat nie almal vrugte na Amerika sal kan stuur nie.

Daar is egter ’n gesonde vraag na Suid-Afrikaanse sitrus in nuwe markte in die Ooste in China, Suid-Korea, Indonesië en Japan.

POMELO-GELEENTHEDE

Chadwick het vroeër aan die webwerf FTW Online gesê Amerika se gewysigde regulasies bied veral geleenthede vir Suid-Afrikaanse pomeloprodusente. Pomelo’s is glo nie tydens die Suid-Afrikaanse pluktyd in Amerika beskikbaar nie en volgens Chadwick is daar nie ander lande wat in dié tyd pomelo’s na Amerika uitvoer nie.

Smit sê die Komati-groep sal beslis pomelo’s na Amerika stuur sodra dit moontlik is. ’n Volledige markontleding sal wel eers gedoen moet word. As uitvoerder sal hulle moet vasstel wat die Amerikaanse vereistes ten opsigte van grootte en gehalte is. Die groep voer tans 40% van sy pomelo’s na Europa uit.

Dit is die grootste bestemming vir Suid-Afrikaanse pomelo’s. Chadwick sê daar is ook uitvoergeleenthede vir klein hoeveelhede laat Mandaryne en Valencia’s in September. Hy maan egter dat uitvoerders die mark in Amerika op ’n verantwoordelike manier moet ontwikkel en nie instorm en die mark oorversadig nie.

Dit kan daartoe lei dat Amerika stappe teen ál Suid-Afrika se sitrusuitvoer kan doen.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.