Weens die gewelddadige onluste in KwaZulu-Natal en gedeeltes van Gauteng is hoofpaaie gesluit, en bedrywighede by die Durbanhawe het grootliks tot stilstand gekom. Dit het veral vir Limpopo se sitruskwekers skade veroorsaak. Volgens een opname was daar 547 vragte vars produkte ter waarde van R247 miljoen op pad na die Durbanhawe die naweek toe die onluste begin het.

Chadwick sê betrokkenes in die sitrusbedryf en ander belanghebbendes, waaronder Transnet, en verteenwoordigers van koue-opbergingsgeriewe en depots vir vraghouers, vergader elke oggend om die situasie op grondvlak te bespreek. Dié vergaderings sal aanhou tot die situasie genormaliseer het.

Chadwick sê hoewel die N3 weer oop is vir verkeer, moet mense steeds versigtig wees om dié roete te gebruik. “Die probleme in KwaZulu-Natal is nog nie uit die weg geruim nie en niks het sover genormaliseer nie.”

Hy sê verder dat die handelsroetes vir sitrus in ’n spesifieke volgorde geopen moet word. “Daar is nog uitvoervrugte by koue-opbergingsgeriewe wat weggewerk moet word. Daar is nog baie skepe buite die Durbanhawe wat afgelaai en gelaai moet word. Dit sal tyd kos om dit te doen wanneer bedrywighede by hierdie geriewe hervat word.

"Mense se lewens is die belangrikste..."

“Mense se lewens is die belangrikste, nie haweterminale, koue-opbergingsgeriewe, vragmotordepots of vragdienste by hawens nie. Ek wil dit duidelik stel. Die veiligheidsituasie in KwaZulu-Natal is nog nie opgelos nie. Sommige bedrywighede het onder streng voorwaardes hervat.”

Chadwick sê dit is belangrik dat boere eers vasstel of geriewe in KwaZulu-Natal die nodige kapasiteit het om hul voertuie en vrag te ontvang. “Anders skuif jy die probleem van die pakhuis na die hawe. Jou voertuig is veiliger waar dit nou is as in KwaZulu-Natal. Opeenhopings sal in Durban voorkom, en jy wil nie daartoe bydrae nie.

“Natuurlik moet alle vrugte wat reeds op vragmotors gepak is, asook die vrugte by pakhuise, eerste aandag kry. Moet egter nie die reeds gekompromitteerde hawegebied verder oorweldig nie.”

Hy stel ook voor dat boere vir eers teen ’n stadiger tempo moet oes of glad nie moet oes nie. “Ons moet as ’n bedryf saamwerk in hierdie opsig, ander sal die hawe tot stilstand kom, en dan is dit ons skuld.”

Verder word boere aangeraai om met hul onderskeie verskaffers kontak te maak om te verseker dat hulle al die nodige middele het om vir volgende jaar se oes voor te berei.

Intussen is die SASKV in kontak met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook die raad vir toesig op die uitvoer van bederfbare produkte (PPECB) om alternatiewe hawens vir vrugte uit die noorde te verseker, veral die Maputo- en Kaapstadhawe.

Daar word ook met die departement vergader sodat inspeksies weer kan plaasvind om onderbrekings te minimaliseer en te verseker dat daar aan vereistes vir plantgesondheid voldoen word. 

Die sitrusbedryf beleef vanjaar ’n rekord-oesseisoen. Sover is 86 miljoen bokse sitrus van 15 kg elk verpak en 62,7 miljoen daarvan verskeep. Na verwagting sal 156,1 miljoen bokse vanjaar verskeep word. Verlede jaar is 150 miljoen bokse sitrus verskeep.