Sitrusuitvoer vanuit die Sondagsriviervallei sal volgens die jongste vooruitskatting die seisoen net tussen 16,9 en 17,5 miljoen kartonne beloop. Dit is bykans 23% minder as die vorige seisoen en 30% laer as die 22 miljoen kartonne wat in 2015 uitgevoer was.

Die gegewens blyk uit ’n verslag van mnr. Deon Joubert, voorsitter van Agri SRV, wat tydens ’n vergadering van die vereniging op Addo bespreek is.

Volgens Joubert behoort die uitvoer teen 2020 tot bykans 26 miljoen kartonne te styg en teen 2025 ’n piek van 29,4 miljoen eenhede (15 kg/eenheid) te bereik. Hy het gesê dat daar tans 120 sitrusboere in die Vallei is, waarvan die top 50 boere sowat 80% van die vrugte produseer.

Werkskepper

Die totale oppervlakte van die Sondagsriviervallei, wat 45 km lank en 6km breed is, beloop 30 000 ha. Hiervan word 17 000 ha onder sitrus verbou.

Hy het gesê die sitrusbedryf is belangrikste werkskepper in die Vallei met sy sowat 60 000 heeltydse inwoners. Om sitrus te produseer, kos tot R120 000/ha en die verpakkingskoste ’n verdere R80 000/ha.

Suurlemoene (7,5 miljoen kartonne) Valencias (5 miljoen kartonne) en nawels (2,8 miljoen kartonne) is die belangrikste variëteite wat in die streek verbou word. Van die 65 sent per karton wat produsente aan die Sitruskwekersvereniging betaal, word 40 sent per karton vir sitrusnavorsing (SRI) aangewend.

Van die sprekers tydens Agri SRV se vergadering op Addo was, van links, voor: me.  Jeanine Joubert en mnr. Jakkie Stander; agter: mnr.  Deon Joubert, prof. Vaughn Hattingh,  drs. Paul Cronje, Tian Schutte, mnre. Pieter Nortje, Hannes de Waal en  Greg Jones.