Mnr. Hendrik Botha, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skaapskeerfederasie, wat wolhantering en skeer as sport insluit, sê die verblydendste neiging wat hy vanjaar tydens die 30ste kampioenskapbyeenkoms in Bloemfontein tydens Bloemskou ondervind het, is die toenemende belangstelling in dié sportsoort onder die jeug.

Volgens Botha is die haakplekke van die ou amateurbenadering uitgestryk en al die deelnemers aan die nasionale byeenkoms moet op eie houtjie op streekvlak kwalifiseer.

“Vanjaar se deelname is van hoogstaande gehalte met 152 deelnemers, teenoor die sowat 90 van verlede jaar. Dit sluit ’n nuwe item in vir die 11 beginner-wolhanteerders wat ingeskryf het en daar is 24 inskrywings in die ope wolhantering. Altesaam 24 handskeerders het deelgeneem,” sê hy.

“Ons is baie opgewonde oor die 26 junior skeerders, wat hoofsaaklik skoolseuns is. Die standaard van hul skeerwerk het teenoor verlede jaar aansienlik verbeter.” Die geesdrif onder die deelnemers is besonder goed vanjaar.

Volgens Botha is die huidige fokus in die skeerbedryf op doeltreffendheid gemik. “Die ondervinding wat die jong manne oorsee opdoen, is ook op die byeenkoms te sien. Ek dink die neiging in die wêreld is op arbeidsbesparing. Minder skeerders word nou aangewend om dieselfde hoeveelheid wol af te skeer as in die verlede en die skeergeriewe word daarvolgens ingerig.”

’n Nuwe neiging in die plaaslike skeerbedryf is ook skeerdienste wat meer beroepsgerig, soos in Nieu-Seeland en elders, aangebied word. Skeerkontrakteurs bied hul dienste aan en dit is nie meer die verantwoordelikheid van die produsent om skeerspanne te versorg nie.

“Ek is opgewonde dat die skeerkontrakteurs baie meer jong mense in die bedryf betrek as in die verlede. Selfs skoolseuns kan gemaklik honderd skape per dag skeer. Die belangstelling van die jeug is vir my verblydend,” sê Botha.