Die landboumaatskappy OVK, wat onder meer skeerspanne aan wol- en bokhaarboere uitkontrakteer, het een van die werkers in ’n video oor beweerde dieremishandeling in die plaaslike bokhaarbedryf dissiplinêr verhoor en teruggestuur na Lesotho.

Die maatskappy ondersoek steeds die ongeredigeerde beeldmateriaal om vas te stel of enige ander werkers dissiplinêr verhoor moet word. Die video is in Mei versprei ná verteenwoordigers 12 plaaslike bokhaarboerderye besoek het en geheime video-opnames gemaak het.

Dit wys onder meer hoe van die skeerders die bokke aan hul sterte gryp en oor die vloer gooi, geskeerde bokke se wonde sonder pynverligting toewerk, ’n man op ’n bok se nek kniel en hoe die diere aan hul horings en bene gesleep word.

DIEREMISHANDELING

Kort ná die uitreiking van die video het verteenwoordigers van Mohair SA en die Dierebeskermingsvereniging vergader. Bronne uit albei kampe het bevestig dit was ’n opbouende vergadering oor onder meer die toekomstige behandeling van plaasdiere.

Die DBV het onlangs ook klagtes van dieremishandeling ingevolge die Wet vir die Voorkoming van Dieremishandeling (Wet 169 van 1993) teen vier sybokhaarboere – onderskeidelik by Willowmore, Aberdeen en Steytlerville – aanhangig gemaak. Mohair SA wag nog op terugvoer van die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag voor hy enige kommentaar kan lewer, sê mnr. Riaan Marais, woordvoerder van dié instelling

. Volgens mnr. Graham Frost, nasionale skeerdiensbestuurder van OVK, het ’n verteenwoordiger van OVK ná die uitreiking van die Peta-video na ’n ongeredigeerde weergawe daarvan gekyk om vas te stel of enige van hul spanne in dié video verskyn. “Ons kan bevestig dat twee van die skeerspanne in die Peta-video wel deur ons gekontrakteer is,” sê Frost.

“Een van die skeerders wat ons bo enige twyfel kon identifiseer, is reeds dissiplinêr verhoor en terug na Lesotho gestuur. Hy sal eers deur deeglike rehabilitasieprosesse moet gaan voor hy weer geëvalueer en daarna in ’n skeerspan, onder toesig, betrek sal kan word.”

NIE PRAKTYK

Mnr. Kobus de Klerk, voorsitter van die Sybokhaarkwekersvereniging, sê dit is jammer wat gebeur het, want dit is nie die praktyk nie. “Daar is streng riglyne vir volhoubare boerderypraktyke. Dit sluit onder meer die hantering van diere in. Volgens dié riglyne word bepaal of sybokaarboere akkreditasie sal ontvang, al dan nie.”

Ná die Peta-video is daar volgens De Klerk wel twee bykomende amptenare aangestel om sybokhaarboere met raad oor die akkreditasie-riglyne te bedien. Boere wat alle volhoubaarheidsriglyne nakom, se skeersels dra die akkreditasie-kenteken.

“Daar is nou ook ’n bepaling gemaak dat boere met skeertyd teenwoordig moet wees. Indien dit nie vir hulle moontlik is nie, kan ’n gemagtigde afgevaardigde namens die boer instaan,” sê De Klerk.

STEEDS BESIG

OVK identifiseer nog die ander skeerders wat hulself moontlik aan onprofessionele praktyke skuldig gemaak het. “Dit is nie so maklik nie weens die koverte manier waarop die video opgeneem is,” sê mnr. Heinrich Victor, ’n bedryfsbestuurder by OVK. Hy benadruk mense word nie lukraak bymekaargemaak om as skeerders te werk nie.

“Die opleiding van skeerders duur drie tot vyf jaar. Alles geskied volgens die Kode van Beste Praktyk van die Nasionale Wol- kwekersvereniging.” Ná ’n basiese internskap word die potensiële skeerders geëvalueer om te bepaal of hulle geskik is om verdere opleiding te ondergaan.

“Na gelang van hul skeervermoë word hulle dan verder as brons, silwer of goud geklassifiseer. Enige skeerder wat enige bepaling oortree, word summier uit die span verwyder, waarna die tugprosesse volg,” sê Victor.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.