Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê die begroting bied aan die Regering die geleentheid om aan twee hooftake aandag te gee: die middele en kundigheid wat nodig is vir inwoners se veiligheid, en die skep van ’n gunstige beleggingsklimaat.

“Met die begroting behoort die Regering hom toe te spits op aspekte wat sal meehelp om stabiliteit in die ekonomiese omgewing te bring. Solank Suid-Afrika se ekonomie nie na behore groei nie, word die vermoë om aan al die ander krisisse aandag te gee, eenvoudig nie geskep nie.”

Van Zyl sê enige beleidsuitspraak behoort getoets te word teenoor wat die uitwerking op beleggingsvertroue gaan wees, en op die bereidwilligheid van entrepreneurs om sake te doen. “Onsekerhede soos onteiening sonder vergoeding het geen ekonomiese uitkoms nie. Dit het hoogstens op kort termyn moontlik politieke uitkomste, wat geensins volhoubaar is nie.”

Oor wat die landbou in besonder nodig het, sê Van Zyl Suid-Afrika het die afgelope paar jaar al hoe meer ervaar dat hy klimatologies baie kwesbaar is. “Met dié dat Suid-Afrika grootliks ’n marginale landbouland is, behoort daar in die begroting voorsiening gemaak te word om rampe te kan oorkom in die landbou-omgewing, om voedselsekerheid te kan verskans.”

TLU SA wil ook hê dat die begroting daarvoor voorsiening maak dat die Nasionale Vervolgingsgesag behoorlik bemagtig word om staatskaping en korrupsie te kan hokslaan.

“Die ANC het die geleentheid om met die begroting vir Suid-Afrika se inwoners ’n beter toekoms te help skep, of hy kan voortploeter met die onhaalbare ideologiese en politieke speletjies wat niemand bevoordeel nie, buiten die paar kaders wat reg geposisioneer is, wat na hulself kyk en vir die inwoners van die land net met lippediens kastig tot voordeel praat,” sê Van Zyl.

Hy is skepties oor hoeveel van wat in die begroting voorgehou gaan word, uiteindelik uitgevoer sal word. “Namate die verslae oor korrupsie en die wanbesteding van geld, oor ’n spektrum van instellings wat uit die begroting baat moet vind, al hoe meer bekend gemaak word, kom die vraag noodwendig na vore in hoe ’n mate die begroting enige doel dien,” sê Van Zyl.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.