TLU SA is bekommerd oor die styging in die aantal aanvalle en moorde wat sedert die naweek op plase en kleinhoewes in verskillende dele van die land aangeteken is.

Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, sê die komitee het drie moorde tydens sewe aanvalle sedert Saterdag aangeteken. In die jongste voorval is mnr. Piet van Wyk op ’n kleinhoewe by Leeufontein naby Pretoria dood nadat hy en sy vrou, Rita, gister aangeval is. Rita is in ’n kritieke toestand in ’n plaaslike hospitaal.

Dié voorval volg nadat twee vroue – een op ’n plaas tussen Rosetta en Mooirivier in KwaZulu-Natal en die ander op die plaas Elandsfontein in die distrik Fochville – Maandag vermoor is.

Een van die vroue was me. Elizbeth Nell (84). Twee verdagtes is aangekeer nadat ’n plaaswerker wat vir werk op Elandsfontein aangemeld het, op Nell se liggaam afgekom het. Nell se selfoon, wat tydens die voorval gesteel is, is nagespoor waarna die twee verdagtes aangekeer is.

Geldenhuys sê TLU SA het in die eerste 25 dae van Februarie reeds 20 voorvalle op plase en kleinhoewes aangeteken, en sewe moorde is tydens dié voorvalle gepleeg. “Ons moedig die publiek, maar spesifiek inwoners van landelike gebiede, aan om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem. Veiligheidstrukture en sekerheidsmaatskappye is nodig, maar tot hulle op ’n toneel opdaag moet mense na hul eie veiligheid kan omsien.”

Geldenhuys sê dit is belangrik dat inwoners betrokke moet raak by plaaswagte en veiligheidstrukture, sodat hulle verdagte persone of voertuie vinnig kan aanmeld en sodoende moontlike aanvalle afweer. “Wapeneienaars moet hul wapens by hulle dra, seker maak dat hulle weet hoe die wapen werk en ook toesien dat hulle die wapen binne die raamwerk van die wet kan gebruik.”

‘Apatiese houding en leë beloftes’

Mnr. Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het hom sterk uitgespreek oor plaasaanvalle nadat me. Mimie Jacobs, wat in 2016 as die Vrystaat se Vroueboer van die Jaar aangewys is, Saterdagnag op haar plaas in die distrik Soutpan aangeval is. Jacobs is tydens die voorval met ’n mes gesteek.

Hy sê die party loof die spoedige optrede van die polisie, asook die rol van die gemeenskap en ander belanghebbendes vir hul optrede ná die aanval, “maar (die party) veroordeel steeds die voorval aangesien hierdie pogings slegs reaktief is”.

Volgens Van Niekerk is dit kommerwekkend dat boere wat deur regering erken word vir hul bydrae tot die landbousektor, nie hul vertroue volkome in die regering kan plaas om hul veiligheid te verseker nie. “Me. Jacobs is die slagoffer van die apatiese houding en leë beloftes wat die regering teenoor geslagsgeweld en landelike beveiliging openbaar.”

Van Niekerk sê daar is steeds gebiede in die Vrystaat waar daar ’n tekort aan samewerking met die polisie en noodsaaklike hulpbronne is om landelike beveiliging te verseker.