Die egpaar is langs die hoofpad buite Steynsrus in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat hulle met die gesteelde skaapkarkasse in die kattebak van hul nuwe Volkswagen Jetta betrap is.

Mev. Matsediso Suzan Mothobi (50) en mnr. Sello Mothobi (50) van Kroonstad het reeds vlugtig op klagte van veediefstal en die besit van gesteelde vee in die landdroshof in Lindley verskyn. Drie werklose meelopers, mnre. Alfonse Nthodi Mofokeng (35), Samuel Montshehi Monatisa (43) en Geelbooi Tsekeli (25), word saam met hulle vervolg, sê ao. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie.

Die vyf se verbasing was glo groot toe hul Maandagoggend vroeg van die pad getrek is nadat boere hulle in ’n voorsit-operasie ure lank met van die heel modernste tegnologie dopgehou het.

Tussen die vleis agter in die kattebak was glo van mev. Mothobi se skoolboeke. Sy het die motor bestuur.

Die vyf moet Donderdag 11 Januarie weer in die hof verskyn wanneer hulle om borgtog kan aansoek doen.

Omgewing al vir jare lank geteister

Moedelose boere sê die omgewing tussen Steynsrus en Senekal word al jare lank deur veediewe geteister, sonder dat enigiemand vasgetrek word.

Hulle was desperaat, sê mnr. Sylvanus Watson, by wie die Mothobi’s glo die 16 skape gesteel het. “Die stelery het 32 dae gelede hier by ons begin. In dié tyd het ons meer as 60 skape verloor.”

Hy sê wat hom veral grief, is dat daar die afgelope sewe jaar meer as 900 skape in die gebied tussen Steynsrus en Senekal gesteel is sonder inhegtenisnemings.

“Ek is ’n boer. Ek is nog nie lank op die plaas nie. Ek het geen kundigheid om skelms te vang nie. Nou moes ek my werk los en ’n groot klomp moeite en tyd in die nag bestee om die diewe te probeer vastrek.”

Hulle wil nie bekend maak met presies watter moderne tegnologie se hulp die Mothobi’s uiteindelik vasgetrek is nie, maar Watson sê dit het hulle sowat R10 000 uit die sak gejaag.

Skaapboerdery tot niet

Mnr. Niekie Grobler, Vrystaat Landbou se veiligheidsverteenwoordiger in die omgewing, sê hulle is raadop. Die teistering het so ver gegaan dat een van die boere sy skaapboerdery tot niet maak nadat hy in die jongste tyd meer as 250 diere verloor het.

By een boer is ’n jaar gelede 17 teelramme geslag. ’n Ander boer het net in November meer as 100 skape verloor.

Die grusame manier waarop die diewe te werk gaan, maak dit nog erger, sê Grobler. In een geval is 31 swaar dragtige ooie op een nag geslag. “As jy daar kom, sien jy die tweelinge in die baarmoeders. Of hulle jaag ooie met hul lammers aan, slag die ma, en sny die lammetjie, wat daar bly staan omdat hy nog dom is, net daar keelaf.”