“Hierdie pandemie het nie net ’n impak op die daaglikse werksaamhede van alle sektore nie, maar dit hou ook ’n ernstige gesondheidsgevaar vir alle Suid-Afrikaners in,” sê Agri SA.

Luidens die verklaring stel die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) ’n meer omvattende reaksie saam op die Covid-19-rampverklaring en sal die onderskeie ministeriële departemente vandag vergader om ’n gebeurlikheidsplan te ontwikkel om die impak van hierdie ramp se impak te versag.

“Agri SA sal deurlopend oor hierdie proses kommunikeer, asook watter planne die regering gaan deurvoer om die Covid-19-uitbreking doeltreffend te bestuur.”

Agri SA doen ’n beroep op die landbousektor om gehoor te gee aan die regering se voorsorgmaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. “Die Covid-19-pandemie is nie net ’n epidemiologiese probleem nie, maar ’n globale gesondheidsprobleem en kan slegs aangepak word deur middel van ’n geïntegreerde en globale benadering.”

Agri SA se riglyne saam met dié van die Wêreldgesondheidsorganisasie is hier beskikbaar.