Graanhandelaars manipuleer die mielieprys en Cosatu vra 'n dringende ondersoek daarna sodat die skuldiges toegesluit kan word omdat hulle Suid-Afrika se voedselsekerheid ondermyn. Dis Tony Ehrenreich van Cosatu se seining van die duur mielieprys.

Cosatu het 'n beroep gedoen vir 'n ondersoek na die mielieprys. Die vakverbond sê in ‘n nuusverklaring "die mielieprys word baie duidelik gemanipuleer deur handelaars wat dit koop en weer aan mekaar verkoop.” (Lees verklaring hieronder.)

Cosatu se beroep is aan die Mededingingskommissie gerig om die prysmodel van mielies en die prysmeganisme op die JSE se landbou-afgeleide mark te ondersoek, en dat die skuldiges tronk toe moet gaan omdat hulle Suid-Afrikaners se voedselsekerheid ondermyn.

Dr. John Purchase van Agbiz het vining gespring en Ehrenreich en Cosatu genooi om Agbiz te besoek. In Agbiz se weeklikse nuusbrief skryf Purchase dié uitnodiging is “sodat ons hulle kan inlig hoe die mieliemark werk en dat sy prysmeganisme deursigtig is en vraag en aanbod weerspieël. Hierdie markmeganisme is gebaseer op geweldige integriteit en is verantwoordelik vir die relatief hoë voedselsekuriteit wat Suid-Afrikaners geniet.”

*  Na die stakings in De Doorns in Januarie 2013, en Cosatu se dreigemente teenoor boere, het die TLU SA gese Ehrenreich en sy vriende moet “nie meer hul monde sit aan enige kos wat deur Suid-Afrikaanse boere geproduseer is nie, maar slegs ingevoerde kos eet”.