Mnr. Cilliers Brink, DA-skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake, sê in ’n verklaring die ANC-beheerde plaaslike munisipaliteit Ditsobotla moes meer gedoen het om aandag te gee aan die water- en kragonderbrekings wat Clover se sake geteister het.

“Maar die ANC gee nie om nie, nie oor die belegging en werkgeleenthede wat maatskappye soos Clover bring nie, en nie oor die 330 mense wat nou hul werk gaan verloor nie. ANC-faksies in Noordwes is tans in ’n oorlog oor wie beheer het van belastingbetalers se geld.”

Brink se verklaring volg nadat Rapport Sondag berig het dat Clover se kaasverwerkingsaanleg in Lichtenburg, die grootste in Suid-Afrika, gesluit word. Mnr. Johann Vorster, Clover se uitvoerende hoof, het aan die koerant gesê hulle sit al jare lank met hul hande in die hare weens voortdurende water- en kragonderbrekings en omdat die infrastruktuur naby die aanleg nie in stand gehou word nie.

Die hoofpad wat verby die fabriek loop, is volgens hom vol slaggate en amper onrybaar.

Die aanleg word teen meer as R1,5 miljard na Queensburgh, Durban, verskuif. 

Fabrieke na kusgebiede verskuif

Landbou.com het in September 2019 berig dat die Mededingingstribunaal toe al bekommerd was oor werkverliese by Clover omdat die maatskappy beoog het om verskeie van sy fabrieke te sluit om sy produkte by drie “super-aanlegte” te vervaardig.

Die suiwel-en-koeldrankmaatskappy wou onder meer sy melkprodukte hoofsaaklik by twee aanlegte in kusgebiede vervaardig, om só koste te bespaar, maar ook omdat die prys en die samestelling van onverwerkte melk volgens die maatskappy in daardie gebiede beter is.

Die beoogde verskuiwings was deel van Clover se Projek Sencillo, waaroor meer inligting aan die lig gekom het tydens getuienis voor ’n paneel van die tribunaal wat die Milco SA-konsortium se beoogde oorname van Clover oorweeg het. 

Beter mededingendheid

Mnr. Jacques van Heerden, hoof van Clover se menslike hulpbronne, verspreiding en aanbodketting, het toe onder meer voor die paneel getuig Clover wou al sy kaas in Queensburgh, Durban, vervaardig, waar hy reeds ’n groot aanleg gehad het.

“Ons is ernstig onmededingend in die kaasmark. Al ons mededingers is reeds aan die kus,” het Van Heerden getuig.

Volgens hom het Clover reeds in 2017, in die eerste fase van Sencillo, sekere aanlegte toegemaak en die bedrywighede verskuif.

Fase twee van Sencillo sou die waarskynlike sluiting van onder meer die botterfabriek op Frankfort, die kondensmelkfabriek op Heilbron, die kaasfabriek op Lichtenburg, en die varsmelk-en-sap-aanleg in Parow behels het.

Die vervaardiging sou verskuif word na die “supergeriewe” in Clayville in Gauteng, Gqeberha in die Oos-Kaap, en Queensburgh in KwaZulu-Natal.

Clover het onderneem om vir twee jaar ná die oorname deur Milco geen personeel af te lê nie.

* Milco SA is destyds beskryf as ’n spesialedoelwitonderneming wat in Suid-Afrika ingelyf is en deur Mauritius International (MMI) beheer is. MMI is beheer deur International Beer Breweries (IBBL), ’n Israelse bemarker en verspreider van bier en nie-alkoholiese drankies. IBBL is ’n filiaal van Central Bottling Company (CBC), ’n vervaardiger en verspreider van koeldranke, melkprodukte en alkoholiese drankies wat in Israel gesetel is.