Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê volgens voorspellings word swaar reën van meer as 30 mm oor die Wes-Kaap, asook die Weskusgebiede tot so ver as die suidelike grens van Namibië van Maandag (12 Julie) af verwag.

Redelike swaar sneeuneerslae is moontlik vanaf Maandag oor die suidelike bergreekse van Suid-Afrika, wat insluit die berge van die Wes-Kaap, die suidelike bergreekse van die Noord-Kaap en die berge in die Suid- en Oos-Kaap. Teen laat Maandag kan die sneeu uitbrei na die suidelike Drakensberge op plekke soos Barkly-Oos, Elliot en Maclear. Dit lyk na die swaarste sneeuneerslae vir die winter tot op hede.

Baie koue toestande met minimum temperature onder -5 °C, en selfs so laag as -10 °C, is oor die sentrale en suidelike dele van die binneland moontlik van ongeveer Maandag tot volgende Vrydag. Minimum temperature onder vriespunt kan vir die eerste keer hierdie winter oor die noordelike dele van die land voorkom en rypskade veroorsaak. Ligte reën is ook moontlik, wat die gevaar vir kleinveeboere verhoog.

Vee en rypskade

Van den Berg maan boere om veral versigtig te wees vir veevrektes as gevolg van die koue toestande. Veral in die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap, asook die suidelike dele van die Noord-Kaap kan baie gevaarlike toestande van Maandag af voorkom.

Gevaarlike toestande vir veral kleinvee-vrektes is nat, koue en winderige weer. Boere moet toesien dat hul vee voldoende beskut is.

Baie koue toestande kan rypskade aan jong vrugte- en neutbome veroorsaak. Jong en onbeskutte bome en wingerdstokke kan vrek van die koue.

Hy sê in veral die noordelike dele van Suid-Afrika wat tot dusver hierdie winter nog nie baie koue toestande ervaar het nie, kan groente en sitrus rypskade opdoen. Maandag en Dinsdag gaan die koue die ergste wees. 

* Sneeu het Maandagmiddag in die distrik Ceres begin val.