Die departement beoog infrastruktuurprojekte van R768 miljoen oor die die mediumtermynbestedingsraamwerk (MTBR), waarvan R400 miljoen aan die Landbounavorsingsraad (LNR) gaan vir die bou van sy laboratorium wat gebruik sal word om entstof teen bek-en-klouseer te vervaardig. Die laboratorium sal ook gebruik word vir kliniese eksperimente vir die ontwikkeling van ’n breëspektrum-entstof teen hartwater, knopvelsiekte, bokpokkies en bokpes.

Die LNR beoog om ten minste 1 240 boere te ondersteun met diereproduksie, -gesondheid en -verbeteringskemas.

Om die verspreiding van bek-en-klouseer in die Krugerwildtuin te voorkom, sal R73,4 miljoen toegestaan word vir die oprig van grensheinings. 

Altesaam R65,6 miljoen sal via die omvattende steunprogram vir die landbou in die 2019-’20-boekjaar bewillig word om in die Wes-Kaap, Limpopo en Mpumalanga infrastruktuur te herstel wat deur vloede beskadig is.

Vir die sink en oprig van boorgate in verskeie provinsies word R33,6 miljoen bewillig. Die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein in die Oos-Kaap kry R15 miljoen vir die opknapping van infrastruktuur en R10 miljoen gaan vir die bou van waterreservoirs.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.