Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag 23 Maart aangekondig die  Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) sal geld beskikbaar stel aan werkers wat tydelik of permanent afgelê word weens die ekonomiese las wat die pandemie op hul werkgewers plaas. 

Die volgende dag het mnr. Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, gesê die WVF stel nou ook ’n nasionale rampvoordeel bekend wat nie gekoppel sal wees aan die normale WVF-voordeelstrukture nie. Sy department het ’n gids daaroor vir werkgewers op sy webtuiste geplaas. Die dokument bevat ook die kontakbesonderhede van die sentrums waar eise verwerk word.

Die bestaande WFV-voordele tree steeds in vir diegene wat hul werk verloor het of siek word en reeds al hul betaalde siekverlof gebruik het. 

Die werkgewer kan besluit, as ’n regstreekse gevolg van die huidige pandemie, om sy onderneming vir ’n tydperk te sluit en werknemers huis toe te stuur. 

“Dit kom neer op tydelike aflegging. Indien die werkgewer nie sy werknemers vir dié tydperk kan betaal nie, kan die werknemers by die WVF aansoek doen om geld uit die nasionale rampvoordeel,” het Nxesi gesê. 

Die rampvoordeel word nie soos die normale WVF-uitbetaling volgens ’n glyskaal bereken nie. Dit behels ’n vaste koers gelykstaande aan die minimum loon (R3 500) per werknemer vir die duur van die sluiting of vir ’n maksimum tydperk van drie maande, watter een ook al die kortste tydperk sal wees. 

Nxesi kon nog nie sê hoeveel die totale bedrag is wat as spesiale rampvoordeel uit die WVF beskikbaar gestel word nie. Die WFV is finansieel gesond en het ‘n netto batewarde van sowat R151 miljard, volgens syfers van die nasionale tesourie. 

Hy het die versekering gegee dat alle beloftes om bystand te verleen wat deur die WVF gedoen is, op aktuariële berekenings gegrond is. 

“Dié berekenings sal natuurlik bygewerk word namate die situasie voortduur.”

Hierdie nuwe nasionale rampvoordeel, asook enige ander normale WVF-voordele, is net van toepassing op werknemers wat by die fonds as begunstigdes geregistreer is en wat maandelikse bydraes betaal.

Daar is nog geen besonderhede oor geldelike hulp aan stukwerkers, seisoenswerkers of ander tydelike arbeid wat weens die virus of die tydelike inperking nie kan werk nie. Ramaphosa het wel gesê daar sal ’n “veiligheidsnet” wees vir werkers wat in die informele sektor werk. 

Daar is sowat 5 miljoen werkers in dié sektor, wat sowat 30% van Suid-Afrika se werksmag verteenwoordig, volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste kwartaallikse peiling oor die arbeidsmag. Intussen het tien organisasies wat informele werkers verteenwoordig, ’n beroep op die regering gedoen om hul lot te verlig. 

“Ons het geen maatskaplike voordele om op terug te val nie, en die meeste van ons werkgewers voldoen nie aan wetgewing oor betaalde siekverlof nie,” luidens die verklaring wat die organisasies utgereik het.