Met ramings dat die Suid-Afrikaanse daggabedryf binne vier jaar nagenoeg R27 miljard per jaar werd sal wees, is dagga ’n moontlikheid vir boere wat wil diversifiseer.

Mnr. Nico Kriek, besturende direkteur van die nakomingsburo vir dagga, het aan Landbou.com verduidelik hoe die proses werk om aansoek te doen om die lisensie.

Hy sê jy moet ’n perseel hê wat goedgekeur is deur die medisynebeheerraad, nie deur die departement van landbou, bosbou en visserye nie. Jou perseel word dus besigtig en die nodige planne opgestel. Dit sluit in ’n sekuriteitsplan vir die posisionering van jou tonnels.

Sodra jou perseel gereed is, moet jy met die prosedure begin om ’n gehaltebestuurstelsel te ontwikkel.

“Omdat jy ’n aktiewe farmaseutiese bestanddeel lewer en verwerk, moet jy ’n perseel hê wat onderskraag word deur ’n gehaltebestuurstelsel.” Die stelsel begin met jou aansoekvorm. Dit vorm deel van die lêer wat inligting bevat van die produk wat op die perseel vervaardig word. Die produk moet aan die standaarde van die medisynebeheerraad voldoen.

Die standaard-bedryfsprosedure word opgestel, wat strek vanaf die hantering van die dokumente, wetlike voldoening, die kweek van die dagga, die produkhantering en die standaarde vir goeie vervaardigingspraktyk.

Hoewel die produk nie vir die plaaslike mark verbou word nie, kan dit ’n goeie inkomste vir die landbou verdien, sê Kriek.

Vier lisensies is reeds op 1 April toegestaan vir die kweek, droog, verpakking of die ontrekking van olie uit dagga vir die uitvoermark.

Besproeiing

Mnr. Charles Cherry, direkteur van Cherry-besproeiing, wat spesialiseer in die besproeiing van landbougewasse, sê ’n drupbesproeiingstelsel sal ideaal wees. 

Doeltreffende toediening en skedulering van water, en ’n goeie kunsmistoedieningstelsel is belangrik wanneer dagga gekweek word. Die maatskappy installeer nou sy eerste drupbesproeiingstelsel vir ’n daggaboerdery in Lesotho. Dit is dieselfde stelsel wat by bloubessies gebruik word. “As ’n maatskappy is ons meer as gereed om hierdie nuwe taak aan te pak.”

Maar hoeveel sal so ’n besproeiingstelsel jou per hektaar uit die sak jaag?

Cherry sê ’n besproeiingstelsel kan ’n daggaboer van R180 000 tot R300 000 per hektaar kos en dan moet die pompprys ook ingereken word. Die hele stelsel vir 4 ha of 5 ha kan jou van R1,5 miljoen tot R2 miljoen kos.

Hoeveelheid

Mnr. Narend Singh, IVP-LP, het in ’n parlementêre vraag aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gevra of daar ingevolge die huidige lisensieregulasies ’n beperking is op die hoeveelheid medisinale dagga wat gekweek kan word.

Volgens Motsoaledi is daar nog nie ’n beperking bepaal nie. Die aansoeker moet in sy aansoek aandui wat die grootte van die perseel is waarop die dagga gekweek word, wat gekoppel word aan die koopooreenkoms met die buitelandse koper.

Daar sal ook vasgestel word of die kliënt geskik is om die produk te hanteer. Die hoeveelheid wat die lisensie-aansoeker gaan verbou, soos met die koper ooreengekom, sal gebruik word om die land se vereistes vir medisinale dagga te bepaal, wat uiteindelik bygetel sal word by die kwota van die internasionale beheerraad vir narkotika.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.