Die regerende party het op sy 54ste kongres in Johannesburg sy nasionale uitvoerende komitee gelas om veranderings aan artikel 25 van die Grondwet, wat eiendomsreg waarborg, te ondersoek.

Dit sal onteiening sonder vergoeding moontlik maak. Van Zyl meen dié resolusie weerspieël die aspirasies van ’n populistiese groep in die ANC, maar dat al die party se lede nie noodwendig daarmee saamstem nie.

“Ek dink selfs die ANC is nie oortuig dat hierdie beleid die antwoord is nie.” Van Zyl sê hy steur hom nie aan politici se populistiese uitsprake nie. ’n Mens moet onthou die ANC het verskeie uitdagings in sy eie geledere, waar hy gehoor moet gee aan versoeke wat voortspruit uit sy lede se uiteenlopende aspirasies.

Hy meen as regerende party kan die ANC nie nou bekostig om onverantwoordelik op te tree en die ekonomie verder skade te laat ly nie. “Ons moet weer in ’n situasie kom waar ons mense – en veral elke geregsdienaar wat eiendomsreg beskerm – se werk erken en prys.

“Om eiendomsreg te skaad en grond wat nie aan jou behoort nie, wederregtelik op enige manier te benut, is tog diefstal en moet deur die gereg só hanteer word. Ons kan nie in ’n samelewing bly wat diefstal probeer goedpraat en regverdig nie.”

GRONDPRYSE

Mnr. Piet Warren, wild-en-beesboer van Gravelotte, sê die beleidsonsekerheid oor eiendomsreg het die effek van swak wildpryse vererger en bygedra tot die daling van grondwaardes in die provinsie. In Limpopo het die pryse van grond waarop tradisioneel met wild en beeste geboer is in die laaste kwartaal van 2017 met tot 60% gedaal.

“Dit het skielik baie moeilik geword om ’n plaas te verkoop. Niemand in hierdie omgewing is lus om ’n plaas te koop nie en ek kan hulle nie kwalik neem nie. Hoe kan jy vandag iets koop as jy nie weet of dit môre nog enige waarde gaan hê nie?” sê Warren. Van Zyl gee toe dat die waarde van sekere plase dalk drasties gedaal het, maar sê dit het eerder met die swak wildmark te doen as met politiek.

Hy sê besproeiingsgrond waarop groente en ander hoë-waardegewasse verbou word, is steeds baie duur en daar is geen teken van pryse wat daal nie.

NIE SÓ MAKLIK

Prof. Elmien du Plessis, kenner van grondhervorming en eiendomsreg aan die Noordwes-Universiteit, sê onteiening sonder vergoeding klink vir die ANC na ’n eenvoudige oplossing vir die slakkegang waarteen grondhervorming vorder (en waarvoor hy ’n groot deel van die skuld moet dra).

Dit is egter nie só maklik soos dit klink nie. Du Plessis meen die Regering het ná meer as 20 jaar van grondhervorming in elk geval nie artikel 25, soos dit nou in die Grondwet staan, behoorlik benut om die proses te laat vorder nie. ’n Hersiening gaan nie noodwendig ’n verskil maak nie.

“Die ANC se beleid was baie lank om grond ingevolge die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper te bekom. Baie anekdotiese vertellings lui dat ’n betrokke eienaar ‘net nie die goeie aanbod van die staat kon weier nie’. Ek skat omtrent 98% van grond vir grondhervormingsdoeleindes is op dié manier oorgedra.”

Sy meen gesprekke oor vergoeding en onteiening moet veel eerder klem lê op duidelike riglyne oor hoe die staat gaan bepaal wie kry watter grond – gegewe grondeise wat ná 20 jaar steeds nie afgehandel is nie – en wat die gevolge van onteiening sonder vergoeding kan wees.

“Byvoorbeeld, as daar geen vergoeding is nie en daar is ’n verbandlening op die eiendom, hoe gaan daar teen die tyd van die onteiening met daardie verband gehandel word? Teoreties sal die banke steeds die eks-eienaar vir die lening verantwoordelik kan hou. Maar as hy eenvoudig weier om te betaal, verloor die bank, en as baie voormalige eienaars weier om te betaal, kan die bankstelsel ineenstort. Die gevolg kan hiperinflasie wees,” sê Du Plessis.

Party-dinamiek

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp meen die beleidsresolusie gaan nie realiseer nie. “Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) maak op ’n praktiese wyse voorsiening vir grondhervorming sonder Zim-styl-onteiening. Ramaphosa het ’n belang by die NOP aangesien hy nou betrokke was by die ontwikkeling daarvan.

“Toe die resolusie tydens die ANC se konferensie aangeneem is, was daar byna ’n vuisgeveg omdat ’n beduidende groep binne die ANC nie meer te vinde is vir die idee dat grondhervorming net ’n morele projek kan wees nie.

“Verlede jaar het die ANC se koukus in die Parlement teen die verandering van artikel 25 van die Grondwet gestem, grootliks omdat Gwede Mantashe die koukus meegedeel het hulle kan nie die EFF se mosie oor die wet steun nie."