Die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) en die departement het ’n pakket van meer as R3 miljard saamgestel om nywerhede te finansier wat kwesbaar is en om finansiering te bespoedig aan maatskappye wat noodsaaklik is vir die pogings om die koronavirus en die ekonomiese impak daarvan te beveg. Hierdie gerief sal beskikbaar wees vir ondernemings wat deur Suid-Afrikaners besit word.

Daar is tot dusver twee spesiale ingrypings gemaak, naamlik R500 miljoen wat bewillig is vir handelsfinansiering om noodsaaklike mediese produkte in te voer en R700 miljoen vir werkkapitaal, toerusting en masjinerie.

Die IDC is ook besig om met verskeie belanghebbendes gesprek te voer oor die vraag na sekere goedere. Dit is om te verseker dat byvoorbeeld die landbousektor en voedselwaardeketting die nodige ondersteuining kry om voedselsekerheid te verseker, die toerismesektor werkkapitaal kry, kapitaal om energiesekerheid te verseker en oorbruggingsfinansiering vir klein en mediumondernemings wat onderdele aan motorvervaardigers voorsien.

Die lys van 22 noodsaaklike produkte wat nou teen prysstygings gemonitor sal word, sluit rys, mieliemeel, melk, geblikte groente en -vleis, toiletpapier en higiëneprodukte in.

Patel het ook aangekondig dat banke vir eers van die Mededingingswet kwytgeskel sal word sodat hulle kan saamwerk en maatreëls kan instel om ondernemings en burgers in hierdie tyd te help.

Banke sal dus “betalingsvakansies” kan gee en daar kan skuldverligting ingestel word om klein ondernemings en mense te help wat onder finansiële druk verkeer. Beperkinge sal ook op batebeslaglegging geplaas kan word, en meer krediet kan toegestaan word aan diegene wat sukkel.

Verdere riglyne vir noodsaaklike dienste, waaronder die landbou- en voedselvervaardigingsektor val, sal op Woensdag 25 Maart bekend gemaak word, het Patel gesê.

Dit is belangrik dat lesers kennis neem dat supermarkte en ander winkels wat kos verkoop, tydens die inperkingstydperk sal oop wees.

Patel het soos pres. Cyril Ramaphosa en me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ’n beroep op die publiek gedoen om nie paniekinkopies te doen nie.

“Alle noodsaaklikhede, soos kos, drankies, mediese voorraad, persoonlike en higiëneprodukte en skoonmaakprodukte, sal tydens die inperking en die tydperk van die nasionale ramp beskikbaar wees. Dit beteken dat alle ondernemings wat noodsaaklik is vir die produksie en die verspreiding van hierdie produkte toegelaat sal word om oop te bly tydens die inperking.”

Dit is ook belangrik dat ondernemings wat operasioneel gaan bly, die nodige personeel moet hê om te verseker dat hul dienste of produksie nie ontwrig word nie. Ondernemings sal ook moet toesien dat hulle die nodige protokolle nakom om voldoende higiëne en maatkaplike afstand handhaaf.

Hy het verder benadruk hoewel die beperking op groepe van 100 of meer mense nie op noodsaaklike dienste van toepassing is nie, moet ondernemings die nodige stappe doen om hul werkers te beskerm.