Tydens die ondenkbare gebeure van ’n gewelddadige aanval op ’n boer en sy gesin en familie verander die lewe in daardie oomblikke vir ewig. Die wonderlike goeie eienskappe van die samelewing word skielik openbaar in die meelewing van mense wat in die normale verloop van die lewe ten beste beleef in die verbygaan gegroet het.

Ons is oorweldig deur die barmhartigheid van ons onmiddellike bure wat hulp van alle soorte aangebied en gegee het. Ons is ewig dankbaar daarvoor. Ons kerkgemeente het sonder vraag of enige gesprek sommer opgedaag met alles wat nodig sou wees – van kos en persoonlike benodigdhede tot ’n lekkerny om ’n bietjie genot te bring.

Dankie is ’n te klein woord om te kan beskryf wat sulke gebare beteken. Die ware betekenis van menswees word openbaar. Wat het ek tog ooit gedoen om sulke barmhartigheid te verdien?

Wat nou?

Twee maande later en die lewe het aanbeweeg. Ek kan nie help om na myself en my optrede in die verlede te kyk nie, toe iets soortgelyks met ander bure gebeur het. Ek het mos gaan hoor hoe dit gaan en waarmee ek kan help. Ek het mos gehelp waar ek kon en toe die stof gaan lê, het ek teruggekeer na my normale lewe. Tevrede daarmee dat hulle oukei is en die lewe moet aangaan, of hoe?

In die laaste tyd het ek male sonder tal teruggedink aan wat was en wat nou is, en wat ons daaromtrent doen. Wat was, is. My oupa het hierdie huis waarin ons aangeval is, in 1920 gebou. In die honderd jaar het ons nog nooit enigsins bedreig gevoel nie. Die verhoudings in die gemeenskap met ons familie was nog altyd van so ’n aard dat ons nooit eens daaraan gedink het om onsself te beskerm nie.

Ek was nooit so naïef om nié te besef dat ’n buitestander van ver af, wat my nie ken nie, my sou kon aanval nie. Dit was net nooit in my verwysingsraamwerk nie, eintlik was dit ondenkbaar. Ek het, soos my oupa en my pa, my kinders in ’n sorgvrye, veilige omgewing met die gepaardgaande vryheid grootgemaak.

My vrou, wat uit die stad kom, het gewoond geraak aan die deure wat nie eens elke aand gesluit was nie. Sy was baie versigtiger as ek. Ons kon deurnag slaap sonder om te wonder wat kan gebeur. Dit is hierdie leefstyl wat ek verkies het bo ’n loopbaan in die lugmag en ook bo die aanbod om ’n plaas van 4 000 ha in Texas te kon bekom.

Dit is hierdie leefstyl wat my die oomblikke nadat my hande losgemaak is, vir my aanstaande skoondogter laat sê het: “Hierdie sal ons nie definieer nie!”

Dit is my lewe wat was. Wat is? Twee maande ná die aanval en ons het fisiek herstel van enige liggaamlike beserings, maar was ek reg toe ek gesê het dit sal ons nie definieer nie?

My vrou is vreesbevange en wil ’n hok op elke venster aanbring en ’n hek voor elke deur. Sy wil nie ná donker uitgaan of in die donker by die huis opdaag nie. Sy wil nie toelaat dat my seun in sy buitewoonstel slaap nie, want dit is nie veilig nie. Ek was altyd gerus dat ’n aanval onwaarskynlik is.

Wel, in soverre ek voel dat ’n herhaling onwaarskynlik is, in soverre kan ek nie seker wees dat dit nie weer sal gebeur nie.

Noudat die stof as ’t ware gaan lê het oor die aanval, begin die hofsake en verhore wat tyd uit die dagtaak neem. Dit laat ook die trauma herleef en ’n mens vra jouself af wat gaan tog ooit met die aanvallers gebeur. Sal geregtigheid geskied? Borgtog is reeds aan een van die aanvallers toegestaan en ons verstaan dit nie. Hy was dan die leier van die bende?

Ek begin nou verstaan hoekom baie mense ná so ’n geweldsmisdaad eenvoudig sê hulle verlaat Suid-Afrika. Ek is nie daar nie, ek sal nie toelaat dat die aanval my lewe tot op daardie punt steel nie. Terwyl ek nie vreesbevange is nie, is daar die onvermydelike uitwerking op my gesin wat my lewe vorentoe as ’t ware wel definieer.

Eensame pad na herstel

Die pad van herstel is eensaam. Net soos ek magteloos voel om iets aan my vrou se vrees te kan doen, moet sy eensaam in haar vrees voel. So naby as wat al ons wonderlike bure is, so ver is hulle wanneer ons met die vrae worstel. Wat doen ons nou daaromtrent?

Ons mag nooit aanvaar dat dit die tye is waarin ons leef nie. Ons is deel van die tye waarin ons leef en as ons aanvaar dat dit so is, is ons aandadig daaraan dat dit aanhou en slegter word. Dit sal nooit oukei wees omdat ons “nie seergekry het nie”. Gaan kuier gerus meer gereeld by jou bure; jy sal nie weet hoe belangrik en waardevol daardie geselskap is nie. Ons lewe is te gejaag en ons mis die dinge wat regtig waarde het.

Ek doen nie ’n beroep op boere om hulself te bewapen of deel te word van veiligheidstrukture en -pogings nie. Dit is alles goed en wel, maar dit doen niks aan die wortel van die kwaad nie. Dit is ’n reaksie tot ’n probleem, maar dit is nie ’n oplossing van die wortel van die probleem nie.

Tot nou toe het ons wonderlike polisiëring ondervind. Ja, daar was probleme met die reaksie van die polisiekantoor, maar ek het in die proses baie geleer.

Ons plaaslike polisielede is glad nie goed genoeg gefinansier om die taak te verrig wat van hulle vereis word nie. Die moreel van die Suid-Afrikaanse polisiemag is oor die algemeen laag, want die lede word nie toegerus om hul taak suksesvol te verrig nie. Hulle word nie met die nodige opleiding toegerus nie. Hulle word nie met genoegsame hulpbronne soos voertuie en brandstof toegerus nie. Die geboue waar hulle werk, word nie in stand gehou nie.

Hoe kan ’n mens met ywer jou dagtaak in sulke omstandighede verrig? Daarteenoor word die georganiseerde misdaadeenheid ’n bietjie beter toegerus, en ek het professionaliteit en toewyding beleef wat uit die boonste rakke is. Die volgende sake wag egter reeds en verg só baie aandag van die ondersoekbeampte dat hy skaars by ons saak kan uitkom. Terwyl hy sy bes doen, hoop ons dat die pap nie op die grond val nie.

Weer eens, daar is nie genoeg hulpbronne om te verseker dat elke saak die beste aandag kry nie.

Bemagtig die polisie

Ek bedank graag die ondersoekspan onder leiding van adj.off. Tseponyane wat ons baie goed behandel het en met soveel ywer en deursettingsvermoë die meeste van die aanvallers in hegtenis geneem het en nou nog daaraan werk om die laastes aan te keer. As elke saak met hierdie soort polisiëring benader word, sal ons misdaad maklik in ons tyd onder beheer kan kry.

My beroep op die regering en die samelewing is: Ondersteun en bemagtig die polisie met alles wat julle het om hul werk te doen, dan sal dit sommer vinnig baie beter met ons gaan. Dit is ons almal se taak om die polisielede te ondersteun en bemoedig.

Daarmee wil ek nie sê ons mag onbekwaamheid en onaanvaarbare optrede duld nie, maar gee die nodige erkenning en ondersteuning waar goeie werk gedoen word. Dit help niks ons het Eskom en ons word vermoor nie, dit maak nie sin om die SAA lewend te hou en die burgers van ons land loop onder misdaad deur nie.

Sit die broodnodige geld in die veiligheid van die burgers van Suid-Afrika en kyk net wat gaan die opbrengs op die belegging wees. Geen ekonomie kan groei in ’n onveilige, onstabiele omgewing nie. Kyk net hoe reageer ons op die korona-pandemie. Tot nou toe was daar twee sterftes: Hoeveel sterftes is daar nie daagliks weens misdaad nie . . .

Graag sluit ek af met die woorde wat my van dag tot dag deur hierdie tyd dra. Dit is twee verse uit Psalm 23: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie . . . Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.” 

Mnr. Derek Mathews is in Maart tot voorsitter van Graan SA verkies.