Die stelsels wat die reën bring, kan in die eerste deel van Maart heelwat reën bring vir groot gedeeltes van die land, met die uitsondering van die westelike dele van die Wes-Kaap.

Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige by Santam Landbou, sê die laagdrukstelsels wat na verwagting oor die suidwestelike dele van Afrika gaan ontwikkel, kan sterk genoeg wees om tropiese vog suidwaarts te laat beweeg. “Dit sal reën bring vir groot dele van Namibië, Botswana en Suid-Afrika. Voorspellings op langer termyn dui op verdere reën vir die grootste deel van Maart.”

Hoewel dele van die dorre Noord-Kaap die afgelope twee weke begin reën kry het, is die droogte in groot dele van dié provinsie geensins gebreek nie, sê Van den Berg. Neerslae van 50 mm of meer is in die distrikte van Douglas, Olifantshoek en Upington aangeteken, maar talle boere in onder meer die distrik Loeriesfontein het nog nie noemenswaardige reën ontvang nie.

In die gebiede wat reën gehad het, is die vooruitsigte gunstig dat opvolgreën die veld gaan laat verbeter, maar die droogte is nog nie gebreek nie, sê Van den Berg. Dit is wel gunstig dat van die droë gedeeltes in die weste van Suid-Afrika en Namibië reën gehad het. Die reën was die gevolg van tropiese vog wat oor Angola en Namibië suidwaarts beweeg het. Dit is normaal vir hierdie tyd van die jaar. Van 20% tot 25% van byvoorbeeld Upington se totale jaarlikse reënval kom gewoonlik gedurende Maart voor, met byna 40% van die gebied se reën wat tradisioneel in Februarie en Maart val.

“Vir die eerste keer in baie seisoene is daar nie sterk faktore wat inwerk om reënval vir hierdie tyd van die jaar ongunstig te beïnvloed oor die westelike dele van die land nie. Die Enso- (El Nino Suidelike Ossilasie) indeks en die Indiese Oseaan-dipool is tans in neutrale fases,” sê Van den Berg.

Rekordoeste?

Hoewel die droogte oor die grootste deel van die res van die somerreënstreek gebreek is met neerslae wat vanaf Desember voorgekom het, het dele van die Noordoos-Vrystaat baie laat en steeds min reën gekry. “Droogteskade het begin voorkom by somergrane, maar reën van 10 mm tot 20 mm die afgelope naweek het verligting gebring in hierdie gebiede.”

Mielie-aanplantings lyk baie goed oor groot dele van die somergraangebied. Van den Berg sê rekordoeste is moontlik in veral die sentrale en westelike dele, met die meeste mielies wat nou in die saad is.

Ryp

Koeler toestande rondom 24 Februarie in veral die Oos-Vrystaat as gevolg van ’n koue front en ’n hoogdrukstelsel wat kouer lug agter die front laat inbeweeg het, het nagtemperature redelik skerp laat daal. “Bethlehem se minimum temperatuur het tot 10°C gedaal, wat op die grens is waar veral mielies se groei vertraag word,” sê Van den Berg. Minimum temperature behoort egter vinnig te herstel, met matige dagtemperature van rondom 25 °C wat in die komende dae in die Oos-Vrystaat verwag word.

“Vroeë ryp gaan na verwagting nie ’n probleem in dié gebiede wees nie, maar eerder koeler toestande wat groei kan beperk. Die kans dat ryp voor 15 April kan voorkom, is 10-30%,” sê Van den Berg. Die ideale tyd vir die eerste ryp in dié gebied – weens die laat aanplantings – sal die eerste week in Mei wees. “Die reën en bewolkte toestande wat in Maart verwag word, kan die hitte-eenhede beperk, wat ook vir sonneblomme ongunstig kan wees, want dié gewas het warmer toestande as mielies nodig.”