Sy begroting vir die 2020-’21-boekjaar is R16,8 miljard, wat ietwat minder is as die vorige boekjaar. Dit blyk egter dat die departement se programme doeltreffender by mekaar ingeskakel is, onder meer ’n gesamentlike program vir landbouproduksie, gesondheid, voedselveiligheid, natuurlike hulpbronne en rampbestuur waarvoor R3,2 miljard begroot is.

Voedselsekerheid, grondhervorming en restitusie is ook saamgevoeg en het ’n begroting van R8,1 miljard. Landelike ontwikkeling het ’n begroting van net meer as R1 miljard. Die program vir ekonomiese ontwikkeling, handel en bemarking kry R885 miljoen, grondadministrasie R756 miljoen en administrasie R2,7 miljard.

Steun vir boere

Hortin en die nasionale tesourie se werksfonds het R600 miljoen bewillig om opkomende boere te steun. Die tesourie het bekend gemaak dat die toelae ingevolge dié fonds die kapitaalkoste vir boere verminder.

Dit is ’n volhoubare fonds, want die rentekoersmarge sal die bedryfskoste dek en só verseker dat meer opkomende boere voordeel trek. Die finansiering is om die helfte lening en toelae. Die leningsgedeelte sal deur die Land Bank geadministreer word. Aansoeke vir hierdie nuwe ondersteuningsprogram het op 24 Januarie 2020 gesluit.

Dit blyk dat gemengde finansiering nie ’n stille dood gesterf het nie. Daar sal R1,2 miljard oor die mediumtermynbestedingsraamwerk (MTBR) aan die Land Bank oorbetaal word om hierdie finansieringsopsie aan boere te bied. Met hierdie finansieringsinstrument wil die regering 450 swart kommersiële boere oor elke jaar van die MTBR vestig.

Oor die MTBR word R495 miljoen aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bewillig om sy biosekerheid op te skerp, laboratoriums op te gradeer en kwarantynstasies te vernuwe om inspeksiedienste by grensposte te versterk. Dit sal die voldoening aan internasionale standaarde verbeter en uitvoer verhoog.

Toegang tot grond

’n Bykomende R500 miljoen is oor die MTBR hertoegewys om uitstaande grondeise af te handel. Die departement reken hy sal die uitstaande 1 411 grondeise teen ’n koste van R8,7 miljard oor die MTBR, wat 16,3% van die totale begroting uitmaak, kan afhandel.

Vir die een-huishouding-een-hektaar-program sal die departement oor die tydperk 312 218 ha grond bekom en ook landbou-insette en infrastruktuur lewer om plase wat teruggegee is, produktief te maak. Altesaam R2,9 miljard word hiervoor bewillig.

Sedert die program in die 2008-’09-boekjaar in werking getree het, is sowat 1 675 plase geskep van die meer as 4,9 miljoen ha wat bekom is.

Om voedselsekerheid en werkskepping te verhoog, sal 145 000 bestaans- en kleinskaalse boere deur die Fetsa Tlala-voedselproduksieprogram ondersteun word met insette en die meganisering van plase. Die verwagting is dat daar op 120 000 ha produktiewe grond gewasse aangeplant sal word. Altesaam R1,8 miljard word oor die MTBR hiervoor begroot.

Altesaam R278 miljoen van die toelae vir die regering se omvattende steunprogram vir die landbou (Casp) sal aangewend word om landboukolleges te laat herleef en R951 miljoen sal aangewend word vir die werwing en opleiding van voorligtingsbeamptes en die plasing van werklose landbougraduandi op kommersiële plase in al die provinsies. Casp kry altesaam 4,8 miljard oor die MTBR.

Navorsing

Die Landbounavorsingsraad kry R1,6 miljard, die Nasionale Landboubemarkingsraad R47,4 miljoen, die Ingonyama Trustraad R121 miljoen, die kantoor van die grondwaardeerder-generaal R142 miljoen, Onderstepoort Biologiese Produkte R209 miljoen, die raad van toesig op die uitvoer van bederfbare produkte (PPECB) R494 miljoen en die registrasierekening vir aktes R990 miljoen.