Hy het in Bloemfontein op sy gereelde werksessie oor vooruitsigte in die landboumark gesê boere se vermoë om landbouskuld terug te betaal, word ook verswak deur strenger monetêre beleid, kommer oor die beoogde grondonteiening sonder vergoeding en die voortslepende droogte in sekere streke.

“Die somergraanstreek het goeie oeste behaal, maar lae winsgewendheid en pryse op uitvoerpariteitsvlak beteken veral mielieboere kry nie hul droogteskuld afbetaal nie.”

Die Oos- en Noord-Kaap ondervind steeds erge droogte wat boere se vermoë inperk om hul veekuddes te herbou. Die voortdurende droogte raak ook hul finansiële vermoë nadelig.

Willemse verwag verdere “herstrukturering” van plaaslike boerdery-eenhede na groter en meer gediversifiseerde bedrywighede.

Mielie-vooruitsigte

Amerika se mielie-oes staan nou op 375 miljoen ton met ’n opbrengs van net minder as 12 ton/ha. Dié bonormale oes verlaag tans die internasionale mielieprys, maar wat gunstig is, is dat die wêreld se voorraadvlakke ook daal namate verbruik styg. Dít kan pryse in die 2018-’19-seisoen ’n hupstoot gee.

Europa het ’n baie droë somer beleef, wat sy voorraad voergrane verlaag het.

Ander faktore om in gedagte te hou, is pres. Donald Trump van Amerika se voorneme om etanol uit 120 miljoen ton van die Amerikaanse mielie-oes te vervaardig. Sy beloofde binnelandse stimulusplanne om die handelstariewe teen te werk wat China op grane uit Amerika hef, sal Amerika se mielie-uitvoer ook aan bande lê.

Aan die plaaslike front ondersteun ’n swakker rand hoër mieliepryse. Uitvoerpariteit styg namate die rand verswak en die dollar versterk.

“Dit lyk of die vloer tussen R2 300/ton en R2 400/ton vassteek,” sê Willemse, maar voeg by dat daar potensiaal is om hoër te verhandel. Hy verwag dat randpryse stadig kan styg en verhandeling op vlakke van R2 300/ton tot R2 700/ton in die komende maande.

“Hier is meer faktore wat prysstyging ondersteun as wat dit afdruk, maar die prys sal nou nie die ligte uitskiet boontoe nie”

Die verwagte midsomerdroogte in Januarie of Februarie kan die mielieprys stut, veral as die rand verswak.

Oliesade-vooruitsigte

Amerika se sojaboonoes word op ’n hoë 120 miljoen ton geskat, volgens Willemse. Die verwagting is dat die wêreldvoorraad met 30 miljoen ton kan styg vanweë die groot Amerikaanse oes en groter aanplantings in Suid-Amerika, terwyl daar steeds ’n groot oordragvoorraad is.

Daarby beteken die invoertarief van 25% wat China nou op sojabone uit Amerika hef, dat Amerikaanse pryse moes daal om met Suid-Amerika mee te ding.

“Dié faktore behoort die oliekoekprys in dollarwaarde goedkoper te maak, hoewel nie in randwaarde nie,” sê Willemse.

Oor Suid-Afrikaanse boere se voornemens om 70 000 ha meer sojabone aan te plant, sê Willemse dit laat baie min ruimte vir plaaslike pryse om te styg. “Die binnelandse verbruik is 1,2 miljoen ton en ons het reeds oordragvoorraad. Derhalwe behoort pryse sywaarts te beweeg.”

Wat die vooruitsigte vir sonneblom betref, sê Willemse die prys kan ook onder druk kom.

“Die vraag is wat gaan sojabone teen ’n prys van R4 200/ton aan sonneblom se prys doen, wat tans heelwat hoër is. My gevoel is hy gaan die prys afdruk.”

Boere plant vanjaar heelwat minder sonneblom aan, want die insetkoste het drasties gestyg, terwyl die hoë voorkoms van Sclerotinia ook ’n rol speel in die laer plantvoornemens.

“Die prys van saad en bemesting het heelwat gestyg. Dinge begin derhalwe knyp met sonneblom. ’n Kleiner oes sal ook nie noodwendig die prys stut nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.