Daardeur het smokkel- en misdaadnetwerke maklik toegang verkry tot voorstedelike huishoudings in Suid-Afrika waar hulle normaalweg nie geduld sou word nie.

Dít was maar een van die skokkende onthullings in ’n gesprek tussen die bekroonde sakejoernalis Bruce Whitfield en ewe bekende ondersoekende joernalis Jacques Pauw in een van PSG Finansiële Dienste se reeks Think Big-webinare.

Misdaadnetwerke raak net ál beter ingegrawe, het Pauw gesê en bygevoeg sy bronne beweer die smokkelroetes wat tabaksmokkelaars gebruik, is dieselfde roetes wat misdadigers gebruik om renosterhorings en selfs wapens te smokkel. “Tabaksmokkelary is deel van die misdaadnetwerk, maar met ligte strawwe as jy gevang word.”

Hy het verwys na me. Talita Snyckers se boek Dirty Tobacco waarin dié voormalige prokureur van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) smokkelary van kokaïen met die smokkel van tabak vergelyk. Sy meen die winste is omtrent dieselfde, maar die verskil is dat kokaïensmokkelaars tronkstraf kry as hulle gevang en skuldig bevind word, terwyl tabaksmokkelaars net beboet word.

Dit kos volgens Pauw van R1,50 tot R2,00 om ’n pakkie van 20 sigarette te vervaardig. Die belastings daarop beloop egter in die omgewing van R18,00. Dit het dus ’n aantreklike bedryf geword toe die regering die aksynsbelasting op sigarette in 2007 van 20% tot 50% verhoog het.

“Skielik het allerhande tabakmaatskappye sogenaamde ‘cheapies’ begin vervaardig en dit het tot misdaadnetwerke in die tabakbedryf gelei,” het Pauw verduidelik en bygevoeg dat belastingontduiking op tabakprodukte teen 2012 omtrent R3 miljard per jaar beloop het.

Die sluikhandel in sigarette het in daardie stadium 26% van Suid-Afrika se totale verkope verteenwoordig. Deur sy Operasie Honeybadger het die eertydse SAID-amptenaar mnr. Johan van Loggerenberg die sluikhandel se aandeel teen 2014 tot 17% van die totale bedryf laat krimp.

Sedert die staat van inperking in werking getree het, was daar geen wettige sigaretverkope nie, tog dui navorsing van die Universiteit van Kaapstad daarop dat 90% van die land rokers steeds toegang het tot tabakprodukte, alles onwettig.

Volgens Van Loggerenberg het misdaadsindikate sedert 26 Maart R3 miljard se sigarette verkoop en die Suid-Afrikaanse fiskus verloor R450 miljoen per maand aan aksynsbelasting.