Hy sê vir afslaers is dit ’n groot verligting. Die veesektor kon eers weer einde Februarie veilings begin hou nadat ’n verbod op sulke byeenkomste geplaas is ná ’n bek-en-klouseeruitbreking verlede November.

“Ons probleem is nou om die getalle mense op veilings te beperk. Ons mag nie meer as 100 mense op een plek bymekaar hê nie. Normaalweg is dit nie ’n probleem nie, maar sedert die verbod op veilings in Februarie opgehef is, word van 700 tot 1 000 beeste op elke veiling opgeveil.”

Van Vuuren sê dit was selfs erger op Woensdag 25 Maart, die laaste veiling voor die inperking in werking tree. “Dis asof mense dink daar gaan nooit weer ’n veiling wees nie. Ons hou vandag ’n register by die hek en laat net 100 mense op ’n slag in die veilingslokaal toe.”

Van Vuuren sê sodra verkopers hul administrasie afgehandel het en betaal is, verlaat hulle die perseel en dan word die volgende verkopers en hul vragmotors met diere ingelaat. Dieselfde word met kopers gedoen.

Mnr. Johan Vosser van Vleissentraal sê hulle sal voortgaan met gewone veilings waarop boere vee verkoop, maar dat alle stoet-, produksie-, losgoed- en wildveilings vir die tydperk van inperking afgelas is.

“Ons wil nie ’n situasie skep waardeur ons mense onnodig aan die risiko van die koronavirus blootstel nie. Waar ons regstreekse transaksies tussen kopers en verkopers kan bemiddel, sal ons dit eerder doen,” sê Vosser.

Hy sê hoewel Vleissentraal oor die tegnologie beskik om aanlyn veilings aan te bied is dit nie altyd prakties nie, veral nie in Limpopo waar hy werk nie.

“Met wild is ’n aanlyn of katalogusveiling maklik, want daar is baie foto’s van die diere en boere het geslagsregisters en ander besonderhede op rekord. Baie veeverkopers is egter kleiner boere of vee is nie die verkoper se hooffokus nie en hulle het min of geen data beskikbaar nie. Kopers skat die waarde op grond van wat hulle in die veilingkraal sien.”

veeveilings korona
'n Ry voertuie staan by André Kock en Seuns se veilingskrale by Bela-Bela en wag om 'n beurt te kry om hulle vee te laat opveil. Net 100 persone word per slag op die terrein toegelaat. Foto: Neil Swart