Al die spesifieke onderwerpe in die wetsontwerp word puntsgewys bespreek, elkeen met ’n afsonderlike boodskap en SA Jagters draai nie doekies om nie. Daar word duidelik gewaarsku teen blatante magsvergrype van die minister, moontlike probleme met die polisie se administratiewe onvermoë en ongewenste gevolge wat die wetsontwerp kan inhou.

In die tweede afdeling van sy wysigingswetsontwerp spring mnr. Bheki Cele, minister van polisie, weg met ’n nuwe doel vir die wet. Hoofstuk 2 van die bestaande wet stel die eerste doelwit van die wet as die bevordering van die grondwetlike reg op lewe en liggaamlike integriteit. Cele se wetsontwerp doen hiermee weg en stel beperkte toegang tot vuurwapens vir burgerlikes ten doel om “openbare orde” te verseker.

Die vereniging waarsku dat dit belangrik vir die staat is om grondwetlike regte in die bestaande wet te verwyder as die wetsontwerp dit ten doel het om weg te doen met lisensies vir vuurwapens vir selfverdediging.

“Die voorgestelde wysiging het ten doel om die individu se toegang tot vuurwapens en daarmee saam, hul regte, te beperk,” waarsku die vereniging. 

Geen verduidelikings

Die wetsontwerp brei die minister en registrateur van vuurwapens se regte aansienlik uit en in baie opsigte kan besluite geneem word sonder dat redes daarvoor gegee hoef te word.

Afdeling 4 van die wetsontwerp gee byvoorbeeld aan die minister van polisie die mag om ’n verbod op die besit van enige tipe vuurwapen of ammunisie te plaas sonder dat hy sy besluit hoef te verduidelik of motiveer.

Die wetsontwerp vereis bykomende bevoegdheid vir toegewyde jagters, sportskuts, beroepsjagters en om ammunisie te “vervaardig” sonder om te verduidelik hoekom. SA Jagters wys daarop dat al hierdie persone vuurwapeneienaars is nes ander mense en vra waarom ekstra bevoegdheid nodig is. Dieselfde geld vir die herlaai van ammunisie. SA Jagters sê herlaaiers is tog ook wettige vuurwapeneienaars wat ammunisie vir hul eie wapens herlaai.

Tans word die wet toegepas dat bevoegdheid vir vuurwapens vir selfverdediging elke vyf jaar hernu moet word en jag- en sportskuts hoef hul bevoegdheid en vuurwapenlisensies net elke tien jaar te hernu. Nou wil die minister alle bevoegdheid en lisensies elke vyf jaar laat hernu. SA Jagters waarsku dat die polisie soos dit is nie die mas opkom nie. Hernuwingsaansoeke vir bevoegdheid neem reeds meer as 12 maande om te verwerk.

Absurde vereistes

Geleentheidsjagters wat tans vier vuurwapens mag besit sonder status as toegewyde jagter of sportskut sal kragtens die wetsontwerp bewys moet lewer dat hulle ’n jagplaas of skietbaan besit of geskrewe toestemming van eienaars of bestuurders van jagplase of skietbane moet indien ter stawing van hul lisensie-aansoeke.

Dit is absurd, sê SA Jagters. Omtrent twee derdes van dié organisasie se 44 000 lede woon in stedelike gebiede en sal nie sonder sulke dokumente vir hul vuurwapenlisensies kan aansoek doen nie.

Om weg te doen met spesiale lisensies vir versamelaars sal beteken dat die sowat 2 000 versamelaars wat saam buitengewone en besonderse vuurwapens van meer as R750 miljoen besit, die nasionale skatte in hul besit sal moet vernietig, waarsku die jagtersvereniging.

Dit is maar enkele voorbeelde van die talle bekommernisse wat in die vereniging se kommentaardokument vervat is. SA Jagters se volle kommentaar kan hier gelees word.