Solidariteit beskuldig Senwes daarvan dat hy eensydig sy aanbiedings aan werknemers wysig.

“Verhogings wat aanvanklik aangebied is, is later verlaag en toe heeltemal weggeneem,” sê mnr. Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris van mynbou, landbou en sement by Solidariteit.

Salarisonderhandelings tussen vakbonde en werkgewers in die graansektor word deur middel van die Graanbedingingsraad gevoer en Visser sê Solidariteit kon reeds met alle ander werkgewers in die bedingingsraad tot ’n vergelyk kom. “Senwes weier om in goeie trou te onderhandel. Werknemers wat dwarsdeur die inperkingstyd moes werk om kos op Suid-Afrikaners se tafels te sit, word nou ontneem van billike behandeling deur hul werkgewer.”

Die onderhandelinge het volgens Visser ’n dooie punt bereik en Solidariteit oorweeg nou sy raad aan sy sowat 300 lede wat werknemers van Senwes is. Visser verduidelik dat daar in die geval van ’n dooie punt ’n bepaalde proses gevolg word, wat insluit dat die bedingingsraad ’n sertifikaat uitreik waarna die vakbond teruggaan na sy lede en hulle oor die pad vorentoe besluit.

Een opsie is ’n staking, hoewel Solidariteit volgens Visser nie “te vinde is vir staak as ’n algemene reël nie”. Hy hoop steeds dat ’n redelike oplossing gevind kan word.

“Solidariteit dring aan dat Senwes terugkeer na die onderhandelingstafel in ’n poging om die dooie punt te bemiddel.”

Senwes het by navraag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.