Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se jongste raming vir 2020 se mielie-oes dui op ’n oes van 15,6 miljoen ton, wat 2,42% of 368 000 ton meer is as verlede maand se skatting van 15,2 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,611 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,97 t/ha is. Hierdie oes is 38% groter as die 2019-oes.

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê met die oesproses wat nou volstoom aan eie gang is, verwag niemand merkbare veranderinge aan die volgende vyf skattings vir die seisoen nie – nie net vir mielies nie, maar ook die ander somergewasse.

“Wat mielies betref, beteken dit dat Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van minstens 2,7 miljoen ton in die 2020-’21-bemarkingsjaar gaan wees wat in Mei begin het.”

Hy sê die oesproses vir sojabone en sonneblomsaad verloop goed met onderskeidelik 79% en 36% van dié verwagte oeste wat reeds aan kommersiële silo’s gelewer was teen 22 Mei.

Die produksieskatting vir sojabone is onveranderd gelaat op 1,3 miljoen ton met ’n oppervlakte van 705 000 ha en ’n verwagte opbrengs van 1,83 t/ha.

Vir sonneblomsaad is die skatting verhoog met 4,8% of 35 000 ton tot 766 000 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 500 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is.

Wat mielies betref, is die voorlopige oppervlakte beplant in die nie-kommersiële landbou-sektor geskat op 297 000 ha, wat ’n effense toename van 0,49% verteenwoordig teenoor die 296 000 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 544 000 ton, wat 1,03% minder is as die 549 000 ton van die vorige seisoen. Ongeveer 40% van die mielies in die nie-kommersiële sektor word in die Oos-Kaap geplant, gevolg deur KwaZulu-Natal met 27%.

Die oppervlakte onder witmielies is 1,6 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlakte 995 000 ha. Die produksieskatting van witmielies is sowat 9 miljoen ton, en vir geelmielies 6,5 miljoen ton.

Die verwagte grondbone-oes is onveranderd gelaat op 62 000 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 38 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,67 t/ha is.

Die produksieskatting van sorghum is 136 000 ton, wat 2,3% of 3 000 ton minder is as die 139 000 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 42 500 ha, en die verwagte opbrengs is 3,19 t/ha. In die geval van droëbone is die produksieskatting 71 000 ton, wat 0,46% of 330 ton minder is as die vorige skatting.