Die laatste aanvaarbare opkomsdatums vir mielies in die oostelike dele van die Vrystaat, soos Frankfort, is ongeveer einde November vir mieliekultivars met ’n mediumgroeiseisoen en tot 10 Desember vir kortergroeiers. Laat aanplantings is veral blootgestel aan die risiko van vroeë ryp wat opbrengs kan beïnvloed.

Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige by Santam Landbou, sê van die mielies in die Oos-Vrystaat het eers teen middel of laat Desember verlede jaar opgekom. “Daar is egter voorbeelde van aanplantings wat eers teen 20 Desember 2018 opgekom het en in die 2018-’19-seisoen in die koeler gebiede van die Oos-Vrystaat steeds tot 8 t/ha gelewer het.”

Ryp al hoe later?

Hoewel rypskade ’n skielike gebeurtenis is, kan lae temperature wat nie rypskade veroorsaak nie, ook opbrengste beïnvloed. Vir mielies kan minimum temperature onder 10 °C reeds ’n beperkende uitwerking hê al is die dagtemperature nog redelik hoog.

As die 2018-’19-seisoen ontleed word, het die eerste temperatuur wat in die distrik Reitz ryp kon veroorsaak, op ongeveer 11 Mei 2019 voorgekom. Dit is ongeveer 17 dae later as die gemiddelde eerste datum van 25 April vir dié distrik in die 16 jaar sedert die 2003-’04-seisoen. In die 2015-’16-seisoen het ryp rondom einde Maart 2016 voorgekom, wat drie weke vroeër was. In die 2006-’07-seisoen het ryp al teen 15 Maart voorgekom, terwyl dit in die 2015-’16-seisoen al teen 30 Maart voorgekom het.

Volgens Van den Berg is die variasie rondom die gemiddelde eerste rypdatum baie groot. Hoewel daar dalk ’n neiging is dat ryp later begin voorkom, kan die 2018-’19-seisoen nie as die norm aanvaar word nie. “As die gemiddelde eerste rypdatum soos aangeteken vanaf 2005 rondom 25 April is, is die kans goed dat rypskade kan voorkom by mielies wat in die tweede helfte van Desember in die Oos-Vrystaat aangeplant is. Indien daar ook meer bewolkte toestande en laer dagtemperature gaan voorkom, kan dit groei verder vertraag.

“Reënmodelle dui tans ’n goeie kans op reën oor die somergraangebiede in April aan, wat daartoe kan bydra dat die eerste ryp op die meer tradisionele tyd einde April kan voorkom.”

Van den Berg sê volgens sy ontleding van rypdatums die afgelope 16 jaar is die kans op ryp voor 1 April 10%. Die kans op ryp van 1 April tot 15 April is 30%, met ’n 30% kans van 15 April tot 30 April en ’n 30% kans dat die eerste ryp ná 1 Mei sal voorkom.