Meer lande het weer hul markte vir die uitvoer van veral varkvleis en verwerkte produkte oopgestel, terwyl sommige lande ook weer plaaslike beesvleis sal invoer. Suid-Afrika se buurlande Namibië en Botswana blyk egter nog lugtig te wees, luidens ’n gesamentlike verklaring van die departement van landbou, bosbou en visserye, en die nasionale dieregesondheidsforum. 

Handel in veilige kommoditeite geniet tans voorrang. Die departement het reeds die remediëring van veterinêre gesondheidsertifikate vir beesvleis na Bahrein, Egipte, Jordanië, Koeweit, Lesotho, Mosambiek, Katar, Swaziland en die Verenigde Arabiese Emirate suksesvol onderhandel.

Varkvleis uit bek-en-klouseervrye gebiede kan ook weer na Lesotho, Msoambiek, Namibië (gedeeltelik), die Seychelles en Swaziland uitgevoer word.

Onderhandelings om weer Suid-Afrikaanse beesvleis en varkvleis na Namibië en Botswana uit te voer is aan die gang.

Die markte vir suiwelprodukte is ook weer grootliks oopgestel. Sommige markte vir die uitvoer van huide, velle en wol word egter nog beïnvloed en onderhandelinge duur voort.

Die volle lys van verwerkte kommoditeite wat uitgevoer kan word, is by die departement beskikbaar. Elke invoerder het egter steeds die reg om sy eie standaard van veiligheid te handhaaf en boere kan dus nie bloot aanvaar dat uitvoermarkte vir veilige kommoditeite outomaties oop sal wees nie.

Mnr. Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, het met mnr. Lin Songtian, Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, vergader om handel tussen die twee lande te bespreek.

Albei partye het saamgestem dat strenger maatreëls nodig gaan wees om waarborge vir toekomstige handel te kan bied. China het onder meer in Februarie die invoer van Suid-Afrikaanse wol verbied.

 

Geen nuwe gevalle nie

Intussen het daar nog nie weer nuwe bek-en-klouseergevalle voorgekom in die epidemiologiese groepe wat gemonitor word nie. Sowat 13 500 stuks vee is sedert 14 Januarie vanjaar teen die siekte ingeënt en as ingeënt gemerk in die voormalige bek-en-klouseervrye sone.

Die departement en die dieregesondheidsforum het by meer as 400 boere in 16 woongebiede gedurende Februarie inligting ingewin met die oog daarop om die inligting te gebruik ten einde Suid-Afrika se status as bek-en-klouseervrye land te herstel. 

Die departement sê die volgende stappe sal versigtig benader moet word, veral tydslyne en beskikbare hulpbronne. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.