Luidens ’n verklaring gebruik 18 van die groep se winkels in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Namibië reeds sonkrag as aanvullende krag vir onder meer verkoeling, beligting en die voorbereiding van voedsel.

Die grootste installasie van sonpanele is by die groep se Basson-verspreidingsentrum in Brackenfell in die Wes-Kaap waar genoeg panele geïnstalleer is om ’n sokkerveld te bedek.

Die groep het ook 649 sonpanele op sy verkoelde vragmotors se dakke geïnstalleer. Dit lewer jaarliks vir 760 MWh – genoeg om krag aan 1 040 yskaste vir ’n jaar te voorsien. Dit stel vragmotorbestuurders in staat om die vragmotor af te skakel wanneer aflewerings gedoen word, wat tot minder geraas en lugbesoedeling lei, sonder om die koueketting te breek.

Die groep se sonkragprojekte word uitgevoer met die samewerking van vennote met wie kragkoop-ooreenkomste aangegaan is.

Mnr. Sanjeev Raghubir, volhoubaarheidsbestuurder by die Shoprite-groep, sê die groep besef klimaatsverandering skep regstreekse en onregstreekse risiko’s vir die onderneming en die gemeenskappe waarin hy sake doen. Daarom doen hy stappe om sy impak op die omgewing te verminder.

“Benewens die installasie van sonpanele het ons ook ’n ooreenkoms onderteken om 434 000 MWh hernubare krag per jaar vir die volgende sewe jaar aan te koop. Ons is die eerste kleinhandelsgroep wat so ’n ooreenkoms aangaan. Dit is moontlik die eerste ooreenkoms in sy soort in Afrika.”

Om sy kragverbruik te verminder, het die groep alle fluoorligte met LED-ligte vervang teen ’n koste van R98,3 miljoen. In die vier jaar sedert dié vervanging onderneem is, is 83,8 miljoen kWh bespaar.