Die sonkragaanleg wek 257,76 kWp op en is al ses maande in gebruik. Dit het reeds die plaas se koolstofspoor gehalveer. Dit het ook die plaas se kragverbruik met 75% verminder.

Dié wynlandgoed was een van die eerstes in Suid-Afrika wat kampioenstatus vir sy verbintenis tot herlewingslandboupraktyke by die wêreldnatuurlewefonds (WWF) ontvang het. Die plaas is grootliks onbewerk. Slegs 85 ha van die plaas se 5 500 ha is onder wingerd.

Luidens ’n verklaring deur Cederberg Wines is bedrywighede op wynplase meer kragintensief as wat die meeste mense raai. Nadat druiwe geoes is, moet hulle met 15 °C tot 16 °C afgekoel word voordat hulle verwerk kan word. Danksy die sonkragaanleg lewer die plaas meer krag en het hy ’n langer tydperk om druiwe te oes. Daar is ook meer krag beskikbaar om die temperatuur in die kelders te beheer.

Die aanleg bestaan uit 716 sonpanele, 8 wisselrigters en 358 optimaliseerders. Dit is verbind aan die nasionale kragnetwerk. Wanneer dit ’n sekere kapasiteit bereik, kan dit oortollige krag terugplaas op die nasionale netwerk.

Mnr. David Nieuwoudt, Cederberg Wines se wynmaker, vertel dat daar reeds tydens bouwerk op die plaas ’n dekade vantevore voorsiening gemaak is vir die installering van die sonpanele op die optimale plek waar dit so doeltreffend moontlik sou kon funksioneer. Daar is planne om die plaas ’n netto produsent van krag te maak.

“ ’n Wêreldklas-wynplaas verdien ’n wêreldklas-sonkragstelsel, en dit is net die begin vir ons. Ek wil hê dat mense wat my wyn drink, aan die Cederberg se berge as uniek en ongeskonde moet dink. Die sonkragaanleg is een stap in ons reis om ons impak op die pragtige omgewing waarin ons boer te verminder.”

Mnr. David Masureik, hoof van New Southern Energy, sê dié versiende benadering maak dit moontlik om ’n gesofistikeerde stelsel te ontwikkel wat vir die volgende 20 tot 25 jaar bruikbaar sal wees. Al die data van die sonkragaanleg word aanlyn in ’n wolk gehou om te verseker dat dit so doeltreffend as moontlik werk.