Dié derde grootste pluimveeprodusent in Suid-Afrika, met sy hoofkantoor in Uitenhage in die Oos-Kaap, het die Hyline Africa-broeiery bekom en dit hernoem tot Hatchery No 3 Blue Hills.

Die broeiery is baie goed geleë vir Sovereign se kontrakboere in die omgewing. Die maatskappy het drie jaar gelede, in ’n swartbemagtigingstransaksie met die onderneming Cultiver, ’n slagplaas in Hartbeespoort, Noordwes, gekoop.

Mnr. Chris Coombes, uitvoerende hoof van Sovereign Foods, sê met die koop van die broeiery sentraliseer hy nou sy voorsieningsketting vir dagoudkuikens vir kontrakboere naby die Hartbeespoort-slagplaas. Tot nou moes Sovereign ’n deel van sy dagoudkuikens teen ’n premie op die ope mark koop.

“Ons Blue Hills-bedrywighede sal dié proses uitskakel en sekerheid en hulpbrondoeltreffendheid bied.

Chris Coombes
Mnr. Chris Coombes. Foto: Verskaf

“Eienaarskap van die broeierybedrywighede beteken ons kan die gehalte van dagoudkuikens beheer en terselfdertyd korter leweringstye aan boere in die omgewing verseker. Die broeiery is sentraal geleë ten opsigte van ons kontrakboere en verminder die afleweringstyd met die helfte, wat tot beter dagoudkuikens lei.”

Die nuwe broeiery het die vermoë om 660 000 eiers per week te set, wat gelykstaande is aan die produksie van 510 000 dagoudkuikens per week. Die eiers sal van Uitenhage en Polokwane gelewer word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.