Sovereign Foods het ’n voorkeurverskaffingsooreenkoms met Cultiver Investments in Limpopo gesluit om dagoudkuikens by dié onderneming, wat in swart besit is, te koop.

Die ooreenkoms sluit in dat Sovereign bestuursteun, die oordrag van boerderyvaardighede en kredietgeriewe aan Cultiver sal bied.

Die belangrikheid van die transformasie in die pluimveebedryf is al dikwels deur die Regering genoem.

Sovereign Foods is in die Oos-Kaap gebaseer en is op twee na Suid-Afrika se grootste produsent van bevrore, vars en waardetoegevoegde hoenderprodukte. Die maatskappy sê in ’n verklaring Cultiver is ’n begunstigde van die Regering se Plas-program vir die verkryging van grond.

Cultiver huur teel- en broeigeriewe buite Mokopane, asook ’n braaihoenderplaas buite Polokwane.

23 000 ton braaihoendervleis per jaar

Sovereign raam dat Cultiver, gegrond op die moontlike toekomstige vraag na sy dagoudkuikens, oor die volgende tien jaar ’n potensiële omset van R659 miljoen kan behaal.

Dit kan die onderneming se broei- en grootmaakbedrywighede oor die volgende drie jaar die grootste in swart besit in Suider-Afrika laat word.

Mnr. Chris Coombes, uitvoerende hoof van Sovereign Foods, sê die ooreenkoms sal vir Cultiver versperrings tot marktoegang, asook markrisiko’s uit die weg ruim en tot sy groei en volhoubaarheid bydra.

Mnr. Muzi Twala, direkteur van Cultiver, sê in die verklaring die onderneming sal sy bestaande eienaarskapstruktuur behou en onafhanklik van Sovereign bedryf word.

Cultiver sal egter nou met Sovereign saamwerk om voordeel te put uit sy kennis, navorsing en ontwikkeling, en beste praktyke rakende dagoudkuikens- en braaihoenderproduksie.

Cultiver het intussen 125 000 teelhoenders van Sovereign verkry en is besig om bykomende ouervoorraad (parent stock) by sy Polokwane-plase te plaas.

“Dit sal Cultiver in staat stel om sowat 342 000 broei-eiers per week te lewer, waarvan 285 000 dagoudkuikens per week uitgebroei sal word,” sê Twala luidens die verklaring. “Dit sal tot die produksie van 23 000 ton braaihoendervleis per jaar lei.”

Cultiver bied reeds werk aan sowat 150 mense.

Volgens Sovereign kan daar danksy die ooreenkoms na verwagting sowat 1 000 nuwe regstreekse en onregstreekse poste oor die volgende paar jaar in die waardeketting geskep word. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.